Bokomo-brekfisbrief; 28/02/2011: Delwery

  • 0

Oom S is ’n legende in sy geweste. Om verskeie redes waarop ons nie in detail gaan ingaan nie. Een van die redes egter is dat hy ken van die vroulike viagra: diamante. Hy het grootgeword as ’n delwerskind en ek het ’n vermoede sy pa en die se pa ook. Kan sommer so met gevoel vir jou sê waar om te loop grawe as jy die vrou wil laat glimlag.

Oom S kom hou mos maar hier vakansie elke jaar. Eers gekamp en later erf gekoop en self huis gebou. So kom die spul smokkelaars hier in Oesterland met die tyd saam agter dat hier iemand in die rondte is wat ’n klip kan uitken van ’n stuk glas. Sommer met die sien, sonder om ’n vuurhoudjie boksie te gebruik of enige van die ander maniere, as jy nou weet wat ek bedoel. Hy vertel hoe die manne afsprake gereël het vir ’n dop en dan moes hy loop uitken of die goete eg is. Nou kuier hy net by vrinne as hy hier is, want hy hou nie van bybedoelings nie.

Hy het nie vertel nie, Antie B het dit vertel:

’n Delwery is mos maar ’n deurmekaar soort van geordende besigheid met die arbeiders en die masjiene wat raas en manne wat rondhol en iemand wat iewers opdragte skreeu. En die kleinkinders wat gedurig onder die voete is want pa is vendusie toe en ma moet by die werk wees. En dan is dit nog tussenin boer en bou en alles wat nodig is om te sorg dat die werknemers ten minste die einde van die maand ’n tjekkie kan kry. En die bleddie selfoon gedoente kan hy tot vandag toe steeds nie ontsyfer nie. Waarom de hel iemand wat skaars 10 kilometer ver is jou wil bel gaan die verstand te bowe. As jy iets wil sê wat so dringend is kan jy mos in jou bakkie klim en dit aangesig tot aangesig kom sê, dan nie? Ek luister hom hoe die foon lui en Antie B antwoord. "Maar jy praat mos nou met Pietie, wat moet ek dan nou ook kom byvoeg?" as mense sy stem wil hoor. En op ’n vreemde manier maak hy sin, want "vir soveel eeue het die wêreld sonder selfone klaargekom, wat is die probleem nou ewe skielik?" Met jong klogoete onder jou voete moet jy iets uitdink:

"Hoekom loop speel julle nie daar op die gruishope nie? Gaan soek vir oupa ’n paar diamante, toe?" En die gewone, jy weet mos: Die kleinkinders is gelukkig en die werk kan aangaan. Probleem is net: Elke vyf minute kom kleindogter aangehol na oupa toe: "Kyk, Oupa, ek het ’n diamant gedelwe!" en Oupa paai maar, sonder om op te let: "Sit hom in jou diamantsakkie dan gaan verkoop ons hom more".

Antie B vertel dat hulle hier kort voor klogoete se bedtyd die "transaksies" tussen die twee dogters dopgehou het. Slim besigheidsmaninne van kleins af. Tot oom S iets gewaar wat nie regtig hoort waar kinders speel nie: ’n Klip so groot soos sy pinkie se nael. Wat die kleine mensie wil verkwansel. Wel, dit kon groter wees ... of kleiner. Ongeag, by navraag kom dit uit die kleine meisiekind het hom maar daar op die gruishope raakge"delf". Welliswaar nie die "skaapkop" soos die legende lui nie, maar tog.

Die antie vertel dat daardie klip gesorg het dat die maand se delwery genoeg wins getoon het dat die kleine delwertjie nou verseker is van ’n ordentlike erfporsie. Hulle het die wins maar netso belê in haar toekoms.

Ek beduie vir Oom S dat diamante nie verniet vrouens se viagra genoem word nie. Destyds het daardie mooier as ’n mens-dame mos hoeka gesing dat "diamonds are a girl's best friend", dan nie? Hy beduie dat die enigste hartseer die feit is dat die klogoete so vinnig groot word en net nie meer wil speel op die gruishope soos in die verlede nie. Ek het ’n vermoede hy is eintlik meer prakties as filosofies as hy so praat.

oester

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top