Bokomo-brekfisbrief; 28/02/2010: Sê nou maar, Wat dan?

  • 0

Soms hoor mens die uitdrukking: "Wat as ..." en ander kere word gesê; "Ek wens ..."

Dis mos versugtings wat daarop dui dat die persoon wat so sê, omstandighede anders wou gehad het. En toe ek aan hierdie "versugtings" dink begin my gedagtes hardloop met "Wat as ..."

Op godsdienstige, politieke, sosiaal-maatskaplike en in mens se privaatlewe is daar baie "Wat asse."

Op godsdienstige terrein is die eerste; Wat as of sal ons sê, sê nou maar, sê nou maar daar was nie soveel gelowe en verskillende kerke nie?

Sou daar dan groter vrede en gemeensaamheid op aarde gewees het?

Sou die omie dan nog allerhande dinge wat hy dink nie reg is in die kerk nie, daar op sy stoep sit en uitdink het? Dis mos gewoonlik dinge wat niks met godsdiens en die mens se saligheid te doen het, wat hy sit en uitdink nie. En dan gaan lê die omie met ‘n beswaardheid in die gemoed sy saak aan die kerkraad voor en dan word dit bespreek en eindelik kom dit by die sinode waar ‘n belaglike besluit geneem.

Sou sulke belaglike besprekingspunte dan nog voorgelê gewees het?

Sou ons dan almal ongeag kleur in dieselfde gebou aanbid het?

Sou daar dan nog sulke haat soos wat nou waarneembaar is tussen gelowe en tussen mense nog voorgekom het?

Wat as daar op politieke gebied nie diktators en onbekwames tot die regering verkies was nie. Sou daar dan dalk ‘n ommeswaai in die mens se geluk en vrede gewees het?

Wat as politiek nie op ‘n magshonger en hebsugtige basis gevoer was nie?

Wat as politieke aanstellings gemaak word op grond van bekwaamheid?

Wat as SA ‘n bekwame regering sou gehad het?

Wat as die maatskaplike omstandighede van die mense beter was?

Hoe sou dit wees as almal werk gehad het wat ‘n lewensvatbare inkomste gee? Sou daar dan nog soveel misdaad wees?

Wat as die inwoners van Afrika en dan meer spesifiek SA ‘n beter opvoeding en beskaafde peil sou hê?

En dan as ek dink aan persoonlike dinge dan wonder ek hoe ‘n mens ek sou wees as ek skatryk of brandarm was?

Wat as die wen Lotto-nommers myne is met die volgende trekking? Dan sal ek seker ‘n kaartjie moet gaan koop.

En nou wonder ek maar net wat sou van my geword het as ek ‘n miljoenêr-pa gehad het, of ek ‘n intellektuele reus was, of ‘n briljante sportman, of hoogs suksesvolle sakeman, of so iets.

Maar nou is ek ek en is my wens dat ek my eie geluk sal skep en ‘n eerbare en gesonde lewe, geestelik en fisies sal ly en steeds trots sal wees op my gesin.

Wat as ek nou groet en almal ‘n mooi dag met ‘n lied in die hart en glimlag op die gesig toewens.

Jakkie

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top