Bokomo-brekfisbrief; 27/11/2010: Grenskruisings in Afrika vir FW

  • 0

Dagsê Francois

Dankie, vir die stukkie oor die reisigers wat in Brasilië gestrand geraak het. Iemand het vir my in ʼn e-pos daarvan vertel en dit was baie interessant om die koerantberig te lees.

In ons omswerwinge is ons natuurlik deur verskeie grensposte en kan ek my net die frustrasie van die groepie mense in Brasilië indink. Ons ervaring deurgaans in Afrika was egter die teenoorgestelde. Ons is oral baie vriendelik behandel en alhoewel ons somtyds baie ure spandeer het om al die rompslomp af te handel was daar nooit sprake van dié soort van moeilikheid waarmee hierdie mense te kampe het nie.

Twee interessante ervarings was die grenskruising tussen Mauritanië en Marokko en ons binnekoms in Egipte by Nuweiba.

Ons het vlaggies van elke land waardeur ons sou reis, weerskante van ons voertuie geplak. Om die vlaggies te laat maak het ek ons reisplan geneem en al die lande gelys en die drukkers gevra om deur hulle rekords te gaan en die korrekte vlae op plakkers te druk. Ek het die proewe nagegaan en op die internet seker gemaak, voor die drukproses begin is, dat elke vlag korrek is en dat die Afrikaanse spelling van elke land se naam reg is (verstommend hoeveel “ë”-s daar in die Afrikaanse spelling is!). So merk ons toe op dat ons vanaf Mauritanië eers deur Wes-Sahara ry voordat ons by Marokko uitkom en bring ons toe vlaggies van Wes-Sahara (wat in die drukkers se rekords te vinde is en ook op die internet beskikbaar is) op ons voertuie aan. Klein foutjie! Wes-Sahara is intussen deur Marokko oorgeneem en toe ons by die grenspos kom merk ʼn wakker doeanebeampte die vlaggies op en word ons as Polisario-front simpatiseerders geïdentifiseer en word daar oorweeg om ons visums, om Marokko te besoek, terug te trek. Ons wys die amptenare toe daarop dat dit ʼn bona fide-fout is omdat ons kaartboeke en selfs ons GPS’e na die landstreek as Wes-Sahara verwys. Na meer as 2 ure se verduidelikings is ons toegelaat om die land binne te gaan nadat die hoofman oor 100 eers persoonlik elke vlaggie van ons motors kom verwyder het. Ons moes ook ons voertuie deur X-straal masjiene sit om seker te maak dat ons nie wapens by ons het nie. Die voordeel van die episode was dat ons die hele pad tot by Casablanca by elke polisieblokkade (waarvan daar elke 50 – 100 km een is!) verwag is en glimlaggend gegroet is en deurgewaai is!

Ons is per veerboot vanaf Aqaba in Jordanië na Nuweiba in Egipte. Ons het geweet dat die prosedure om jou voertuig in Egipte in te kry ʼn administratiewe nagmerrie is en besluit toe om die immigrasieprosedure af te handel en in Nuweiba blyplek vir die aand te kry terwyl ons voertuie binne die doeanegebied sou agterbly. Ons sou dan die volgende oggend die proses, wat tot twee dae kon duur, begin om ons voertuie in die land in te kry. Jy moet jou voertuig op die Egiptiese voertuigstelsel (Egipte se eNATIS) registreer, versekering uitneem, nommerplate kry en nog tientalle ander prosedures deurgaan voordat jy met jou eie voertuig in Egipte kan ry. Toe ons egter van die veerboot af ry keer ʼn vriendelike polisieman ons voor en beveel ons om onder ʼn afdak in te trek. Toe ons hom vra of ons die voertuie vir die aand daar kan los sê hy toe: ”Why? If you want I can help you to be out of here by 18:00.” Dit was byna 12:00 en ons besluit terstond om sy aanbod te aanvaar. Ons het geweet dat die nodige baksheesh betaal sou moes word maar het die aanbod met albei hande aangegryp. Kort voor 18:00 is ons toe triomfantelik met ons Egiptiese nommerplate daar weg. Dit het elkeen van ons so ongeveer R200 gekos (ons het self die bedrag bepaal).

Afrika het dus ook maar sy probleempies en haakplekkies maar nêrens het ons die klas van moeilikheid ervaar wat daardie arme mense nou in Brasilië ondervind nie. ʼn Meerderwaardige en arrogante houding is natuurlik die brandstof wat enige doeanebeampte se nukkerigheid laat ontsteek. Ek wonder of hulle al van die term baksheesh gehoor het!

Groetnis

Thomas

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top