Die ou mense het mos nooit gedink dat hul kakgate ooit sou oorloop nie. Water was toe nog ’n ding wat waarde gehad het, nie soos vandag waar ons deur hierdie skaarsste (en mees kosbare) van alle hulpbronne gaan asof dit sommer net gaan neerval as ons genoeg biddae hou nie. Die loo is net getrek as daar bruin in was, anders het jy mos maar gaan sit en die klank verduur. Ek dink tog die oues het veel meer geweet as wat hulle voorgegee het ...
Tog, hulle’t nie rekening gehou met die nuwe generasie en hulle toiletgewoontes nie, want ons trek en trek en trek mos en die water (en wat saamgaan) moet iewers heen: In die kakgat in. Liewe oom Dan en oupa was goeie bouers, maar soos ek gesê het, het hulle nie die gate groot genoeg gemaak nie.
Middel Desember begin die gat oorloop, want Mavenster het mos maar altyd ’n groot aanloop mense gehad. Mense wat kom branders kyk of sommer net mense wat bel as hulle duskant die berg is: "Is julle by die huis? Het julle plek vir ons?" En hoe welkom was (en is) elke lank gelede gesien gesig nie!
En soos dinge mos maar gaan, dink mens mos nooit aan jou kakgat nie. En dan tref dit jou en moet jy vinnig plan maak: ’n Nuwe gat is al opsie. Die laaste strooi was toe Mavenster almal beveel het om te knyp tot die kakgat uitgesorteer is en eerder die winkel toilet te gebruik. Ouma se geheue was nie meer lekker nie en moes toe mos juis op die presiese oomblik gaan sit (en die besigheid trek) toe Mavenster in die gat is. Hy het hard en baie duidelik gevloek (ek sou ook as ek vol stront gespuit word, en veral oumens stront), maar het tog genoeg agting gehad vir ouma om nie die kragwoorde voor haar te gebruik nie.
Middel Desember is al die Brickies mos maar met hul jaarlikse verlof en mens kry nie sommer net ’n bricky wat lus het om kakgat te graaf en uit te bou daardie tyd van die jaar nie. Die ou groot staatmaker was mos maar altyd ou Hompies. Nederig as hy nugter was, hardegat effe aangeklam, en erg bakleierig as die wyn eers begin trek het. Liewe, liewe ou Hompies (ek mis die ou man). En so word die gat gegraaf.
Sit nou by ’n regte grapgat kakmaker soos oom Fonnie. Vroeg afgetree en altyd op die uitkyk waar hy iemand ’n streep kan trek. Hy vertel hoeka noudie dag watse nonsense hy en Mavenster aangejaag het as jongelinge. Oom Fonnie is iemand wat jy nooit kan peil of hy ernstig of ’n grap maak nie, want sy gesig lyk altyd eners. Dalk dié hoekom hy so goed gevaar het in die veiligheidsmagte.
So beduie hy vir Mavenster of Mavenster nie lus is vir ’n stywe dop nie synde Mavenster erg moerig en vol stront gespoel is juis die oggend. "Reg so, maar maak dit ’n stywe een" (knipoog). Beide het egter mooi seker gemaak dat Hompies en die grawers hoor wat hier gepraat word.
En hier daag oom Fonnie met ’n bierbeker skoon "whiskey" (flou tee) op: "Hier, Hans, sluk dat die dop jou kan regruk." Met een sluk word die doppe ge-"down" en hompies wat maak of hy niks gehoor het nie staan botstil en staar oopmond hierdie groot drinkers aan.
"Nog een?"
"Laat loop maar, dis goeie whiskey hierdie."
Met die afsluk van die tweede bierbeker "whiskey" sien ek hoe skud Hompies half mismoedig sy kop.
Tot met sy ontydige heengaan het Hompies die verhaal vertel hoe Mavenster twee bierbekers skoon whiskey uitgedrink het en hoe Mavenster nie eens "te wagte kon wees" hoe sterk die drank eintlik is nie. Tog, so hoor ek die anner dag mense vertel: Mavenster het nie ’n liefde vir drank gehad nie, maar die hemel weet, die man KON drink!
Ek wou hom menigmale reghelp, maar sommige legendes is beter net so. Mens karring mos nie aan ’n goeie storie nie.
oester
Ns: Die kakgat is genadiglik betyds klaargemaak en werk na soveel jare sonder probleme. Terwyl die "professioneel" en duur ontwerpte geboue so rondom ons intuimel sit ek terug en is dankbaar dat die oues my hier en daar iets geleer het. Smaak my hulle het so ietsie meer geweet as die nuwe generasie "alwetendes".


