Tans kyk ons weer die rolprent Fargo wat op SABC1 uitgesaai is en ons op ons DSTV Dualview opgeneem het. Dit is ʼn rolprent van die broers Ethan en Joel Coen. Hierdie twee is loshande die grootste makers van Amerikaanse rolprente van die huidige tydvak.
Die broers Coen skryf hulle eie draaiboeke en tree as regisseurs op.
Fargo is gegrond op ʼn ware verhaal, ʼn banale tragedie wat hom in die noordweste van die VSA afgespeel het. ʼn Desperate, bankrot Amerikaanse motorverkoopsman het skurke gehuur om sy vrou te ontvoer, ten einde die losprys by sy ryk skoonpa af te pers. Dinge het egter totaal skeefgeloop. Die rolprent wentel om sy toenemende desperaatheid en ʼn reeks wangebeure wat die brein agter die ontvoering, die motorverkoopsman, gespeel deur William H Macy, te beurt val.
Die Coen-broers het die treurspel egter verhef tot ʼn gróót rolprent, ʼn tragi-komiese meesterstuk van mislukkings, menslike swakheid en komiese misverstand. Dié treurspel het ʼn heldin, Francis McDormand, wat swanger en hónger is. Dit beeld misdadigers vir die dom ploerte wat hulle meestal is uit, en is geskiet met kamerawerk wat die koue en verveling van Fargo, North Dakota, oortuigend aan die kyker oordra.
Joel en Ethan Coen probeer om Amerikaners op te voed, bo enige twyfel. Hulle probeer om die letterkunde en klassieke werke toeganklik te maak vir die gewone Soccer Moms, diegene wat vir Sarah Palin stem, in die VSA. Hul rolprent, O Brother, Where Art Thou, is byvoorbeeld losweg gebaseer op die Griekse Odusseia deur Homeros. Dit is gebeeldset in Amerika se armste staat, Mississippi, maar dit is nietemin ʼn getroue weergawe van die Griekse oorspronklike.
In ʼn ander rolprent van hulle, Intolerable Cruelty, haal George Clooney Shakespeare aan: "The fault, dear Brutus, is not in the stars, but within ourselves."
The Big Lebowski is insgelyks ʼn komiese meesterstuk van die Coen-broers, met Jeff Bridges as ʼn rustige held wat bloot sy gesteelde tapyt wil terugkry, wat, volgens hom, die décor in sy hool van ʼn woonstel "aanmekaarbind." In die proses kruis hulle paaie met "Da Jesus" - John Turturro - wat hulle teenstander is in ʼn kegelspel-toernooi. "You don't fuck with Da Jesus ..." Julianne Moore is ʼn eksentrieke rooikop wat nakend verf spat om "kunswerke" voort te bring.
In No Country For Old Men, ʼn gewelddadige rolprent met Quinton Tarantino-agtige moord en doodslag, stel ʼn psigopaat mense "tereg" met ʼn gas-aangedrewe bout waarmee beeste in slagpale die ewigheid ingestuur word. Dit is weer eens 'n treurspel waarin gewone mense op die verkeerde tyd op die verkeerde plek is.
Ek kan nie wag vir die Coen-broers se nuutste rolprent, Burn After Reading, met Brad Pitt en George Clooney daarin nie.
Anton B


