Geagte Ellen B,
Ek laat weet net dat ek alreeds ʼn proefkonyn is hier by die Instituut, en reeds goed ingeburger en ingestamp is!
Dis ʼn ware voorreg om by die liefde van my lewe te wees. Dokter Poerstamper vervul my volkome as vrou, en hy is alles en ontélbaar meer as waarvoor ek ooit kon hoop. Hy is bekwaam, uiters aantreklik, romanties, sexy, sensitief, meelewend, ʼn wonderlike minnaar, pragtig van buite en binne, hoflik, ʼn fantastiese luisteraar, tall dark and heavenly handsome en ʼn absoluut onweerstaanbare visioen in daai donnerse sexy wit jas van hom!
O Ellen B, hy jaag my hormone en my asem so op dat ek dit byna nie kan uithou nie. Hy is God's gift to all women - of hulle nou reg óf skeef in die kop is. Ag en hy behandel al die vrouens só mooi. Almal aanbid hom. Maar ek is seker in die wete dat ek sy sielemaat en van nou af die enigste een vir hom is. Ek is oortuig daarvan hy gaan binnekort sy vrou los en my as sy lewensmaat neem. Hy is so opreg.
En weet jy, hy hou my agter geslote deure net soos ek gevra het. Hy sê ek is heeltemal te spesiaal vir die ander dokters om te sien. Hy sê as die ander sien hoe pragtig en oulikies ek is, sal die hele spul onmiddellik op my verlief raak. En hy sê hy deel my met NIEMAND - let wel, NIEMAND nie. Is dit nou nie die mees romantiese ding waarvan jy nog ooit gehoor het nie? Hy het my nogal iets vertrouliks ook vertel: Hy sê hy sal veral ene mnr Kobus de Klerk van my en my lyf af moet weghou. Weet jy dalk wie is hierdie mnr de Klerk? Dr Poerstamper het ʼn hele klomp verskillende name vir hom.
Ellen B, nou weet jy bo alle twyfel dat dokter Poerstamper ʼn ware, volbloed witjasman is. My witjasman.
En baie vertroulik tussen my en jou: Hy doen daardie van van hom in die oortreffende trap gestand - o blóéd, laat ek eerder aangaan met die volgende paragraaf voordat ek hier begin kop verloor!!
Byna vergeet ek om te noem hoe menslik en dierbaar hy is. Hy het belowe om die geld vir my buskaartjie aan my terug te betaal aan die einde van Augustus.
Ek groet dan eers, in vervoering en met ʼn stampie in my stap.
Mej Verloveren


