Bokomo-brekfisbrief; 27/07/2010: Souwesia (L)

  • 0

Eens op 'n tyd, wetie meer hoe lank terug nie, een van die uitsoek kampplekke gewees hier in Oesterland. Eenkant kampplek vir die wittes en doer aan die annerkant die plek vir die nie-so-wittes. Selle water gebruik. Selle bakstene van Reebokstene gebruik om die geriewe mee te bou en tien teen een nog dieselle arbeid ook nog gebruik. Want jy het uit jou tent uitgestap en twintig tree verder (as dit hoogwater was) het jy met jou voete letterlik in die Blou Dam gestaan. Dis nou, as jy see se kant toe gestap het.

'n Hoë heining het die spul uitmekaargehou. Een kant die whiteys, en ander kant die darkies. Nooit moeilikheid gewees nie, want as jy in die water is het hierdie Blou Dam nie gevra wie of wat jy is nie. Want die drade en omheinings kon mos tog net tot op hoogwater merk loop, daarna kon die mense mos maar meng soos hul lus het.

En toe, om een of ander vreemde rede loop dinge eenvoudig dood. Want 'n Raad het so besluit.

Want iemand op die raad het besluit dat dit beter sou wees om een of ander designer ontwikkeling hier toe te laat. Alles goed en wel. Probleem is, niks het daarvan gekom nie. En toe volg die natuur sy eie gang. Want eerste wat verdwyn is die wagte wat jou weggehou het. Vinnig is die waghuisies tot vuurmaakhout gereduseer en toe daar nie meer wagte oor was nie toe kon mense mos maar die natuur sy gang laat gaan. Toe word dit 'n steekplek. Want dit is goed weggesteek. Nee, die plek bedoel ek. Wel ... nee ek bedoel nie die plek is weg gesteek nie. Of dalk ... Toemaar ...

Soos dinge mos maar verval is die goeie goed eerste weggedra. Die stowe en blink panne en toe die lig fittings en later die koper en allie en uiteindelik die staal en yster. Die toilette is sommer stukkend geslaan omdat sommige kon. En tussen alles deur die geskryf teen die mure van manne wat onbekende meisies daar warm gesteek het. Ek onthou die een sin met uitgebrande kole teen een van die mure: "K**** se **** proe lekker". En toe wonder ek want einste K**** het ons baie daar gekry in duur motorkarre. Die een slag sommer op die voorsitplek. Wonder of sy vroutjie nooit gewonder het wat toe van daai sakeontbyt geword het nie?

Later het die manne wat houtsaag darem die oorgroeide paaie soort van in bedwang gehou. Ek kan net nie anders as om my weer van voor af te vervies vir die behangsels tussen die natgedoude takke as ek na die rotsbanke toe moes deur nie. Verdomp, man, mens wil nou nie vroegoggend aan skaars-koue "rubbers" vat as jy takke wegstoot nie (wel ...).

Tot die dag wat Sammy sy vroutjie loop soek het en haar toe op die "bonnet" van 'n duur Japannese dubbelkajuit gekry het. En toe lem hy maar en toe is dit op Die Burger se voorblad. Niks het van die saak gekom (wel ... ) nie want die gelemde het verseg om 'n saak te maak. Maar toe is die gort gaar. Want dit is munisipale grond wat weggesteek (wel, soms letterlik) is waarvan net sommige uitgelese (of dalk ingeligtes?) mense van geweet het. En so maak ek oom Wilfred se dak reg en ons raak aan die gesels en om een of ander rede praat ons toe oor prima grond wat ongebruik lê. Hy beduie toe vir my dat hy iewers bietjie verder teen die strand af 'n stuk grond gekoop het toe hy nog jong prokkie was. Skoon vergeet daarvan. "Wil oom nie verkoop nie?" (Ek sien klaar die dollars.)

"Man, ek weet nog nie eens presies waar die grond is nie, hoe kan ek nou antwoord?"

Nou sien ek dat die manne soort van 'n muisbosskerm daar begin het. En hulle doen goed en skep werk en hul kos is uit die boeke. Soms. Ten minste word die plek nie meer weggesteek nie. Of moet ek se: is?

Oom Wilfred? Hy sê hy het loop kyk en hy dink die grond sal nog eendag goud werd wees. Dit kon ek hom die eerste dag al beduie het.

Die munisipaliteit (wat nooit geweet het 'n deel van die grond is hulle s'n nie) spook nou oor rommel en kleinlike twak. Destyds toe die rubbers aan al wat 'n tak was gehang het het hulle nie geworry nie. Toemaar, kom ons los dit net hier voor mens dalk name noem ...

oester

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top