Bokomo-brekfisbrief; 27/06/09: Farrah, Bo, ens

  • 0

 

 

Een van die twee seker dinge in die lewe het haar toe ook oorgekom, lees ek. Haar naam was as jongeling baie gespreek, meestal met 'n stille bewondering: Farrah Fawcett. Eers Majors en toe sommer net gewoonweg. Nou kyk, ek wil nie hoes of skinder nie, maar as daar nou een mens was wat, wel, mooi was, dan was dit sy. Destyds was dit mos gewoonte om prente op jou mure te hê. Daai Huisgenoot-middelblad. Ek onthou die ene wat ek van me Fawcett op my muur gehad het: Sy het so 'n rooi nommertjie aangehad, en dit moes 'n koelerige dag gewees het, of sy was bly om iemand te sien ...

Ek wetie of dit die haredos was nie. Die glimlag dalk? Die reeds genoemde rooi nommertjie? Die lenige lyf? Vir my was sy en dames soos Bo Derek (ja, ja ek weet), Sian Addey Jones (helaas, ja, Scope was nie oral verbode nie, oukei?), Glenda met watsenaam? Oupa, dis hy! (en dit in die middelblad van Keur!) en 'n hele paar ander (wel 'n heeeeele paar ander) iets magies. Ons het nie net hulle foto's teen ons mure geplak nie. Ons het met ander oë (eintlik jok ek nou) na hulle gekyk. Ons het gewens ons kon oorvlieg Amerika toe en hulle loop verower. Godinne was hulle vir ons gewees, nie blote mense nie. Charlie's Angels het ek net van gehoor, want geld vir TV's was daar nie gewees nie. Huisgenoot was nie altyd destyds in Botswana bekombaar nie, so jy het handel gedryf om sekere middelblaaie te bekom. Soms ten duurste betaal. Soms, en hier praat ek spesifiek van me Fawcett, het ek vir weke by ant Maggie gesmeek vir daardie middelblad. En die dag toe sy uiteindelik toestem, sou ek belowe dat ek deur vuur sal loop omdat sy vir my daardie foto gegee het. Noudat ek terugdink, smaak dit my sy't aspris uitgestel, want wat op aarde sou sy nou met daai foto wou maak? Haar woorde toe sy die middelblad versigtig (lw, hy mog nie bloot uitgeruk word nie!) losmaak: "Ag, belowe my net julle sal altyd by my en Oom Koos kom kuier." Maklik soos dit!

Nou wil ek ook sommer net hier bysê: Die man wat sê dat me Fawcett nie mooi was nie, het nie bloed in sy are nie. Ongeag jou spesifieke voorkeur van wat skoonheid is. En nee, ek stel nie belang om anders oortuig te word nie. Wel ... tensy ...

Annerdag restoureer ons vir "Saywen", een van die oudste huise hier by ons teen die rivier. Oupa het nog die grasdak opgesit, en logies sou net sy nasate deug om die ou huis tot haar volle glorie te herstel. In die slaapkamer, bokant die groot bed het daar 'n lewensgroot portret van Vivien Leigh gehang. Ek vra toe vir mrs W: "But why?" Sy verduidelik toe vir my dat haar oorle' man gedink het Vivien Leigh is, wel, soos ek as jongeling oor me Fawcett gevoel het. Sy was heel instemmig toe hy vir haar verduidelik dat hy elke oggend as hy wakker word twee mense wil sien voor sy dag begin: sy vrou en Vivien Leigh. Mrs W sê dat sy nie oor haar hart kon kry om die portret af te haal nie, al het die ou man intussen lankal tot stof vergaan. Nadat die huis tot haar ou glorie herstel is, het ons vir me Leigh weer teruggehang op haar plek, al het mrs W toe reeds die tydelike met die ewige verwissel. Sommer net, want 'n mens is maar sentimenteel, dammit!

Wat is hierdie magiese krag wat julle vrouens oor die mensdom het? Wat is dit met julle dat koninkryke val, ryke verower word, en mans soos "putty" raak voor julle? My ou vriend M praat gedurig as sy mammie hom die moer in maak dat hy nog die skool wil opspoor waar vroumense hulle nonsens (hy gebruik gewoonlik 'n "beter" woord) leer. Hy beduie dat hulle almal een of ander tyd daar loop draai. Hy sê hy soek al jare lank daai skool, maar die komplot is te goed beplan so die soektog sal, logies, op niks uitloop nie.

"En wat, my liewe man, sal jy maak as jy ooit daardie skool van ons opspoor?"

"Ek sal seker maak jy't wel jou klasse bygewoon, want ek sou jou tog nie anders wou gehad het nie." Mmmmmmmm.

Vergun my dus, Melt, om vir me Fawcett gepas te groet: "Rus in vrede, pragtige mens, want al weet u dit nie, het u tog 'n jongeling in 'n stadium ver en lank laat droom."

oester

NS: Kan u nou sien, Breyten, waarom 'n mens soms dinge onder 'n ander naam as jou eie kwytraak?

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top