Bokomo-brekfisbrief; 27/02/2011: Maar Jaco ...

  • 0

... dis ‘n feit! Die feit dat daar elf amptelike tale is, is ‘n grap. Jare gelede, met ‘n politieke gestryery gedurende ‘n braai (wat is nuut?) op ‘n vriend se plaas, en waar ek weer die enigste sogenaamde verkrampte was, het ek gesê dat, sou die nuwe bedeling realiseer, Afrikaans geteiken gaan word en definitief gaan verdwyn as amptelike taal. Hoe anders, ‘n swart regering sal mos nooit Afrikaans as amptelike taal wil hê nie. Die ouens en hulle vrouens het in ‘n koor gelag en gesê ek is mal; dit sal nooit gebeur nie.

Jare daarna, met die eerste treetjies van die NSA, is daar toe bepaal dat daar elf amptelike tale sal wees, ‘n praktiese onmoontlikheid. Dit was toe al duidelik dat Engels voorop geskuif was en Afrikaans afgradeer was. Met ander woorde, vir alle praktiese doeleindes was Engels die enigste amptelike taal. Ek het toe hierdie einste vriend gevra wat sy kommentaar daaroor was en hy het geantwoord “Ja, maar is dit so’n groot prys om te betaal vir vrede?”

Eintlik was sy antwoord “Jy was toe reg” maar hy kon dit nie sê nie want dit sou dieselfde wees as “Ek was verkeerd” en dit sal nie deug nie. Dis seker maar menslik, heelwaarskynlik sou ek (en jy dalk) ook ‘n antwoord gegee het wat daarop dui dat ons nie heeltemal verkeerd was nie; daar was nog ‘n rede destyds hoekom ons gedink het soos ons gedink het, ons het dit net nie gesê nie.

Nou, soos jy al vermaan het, mens gaan seker in ‘n verloor-verloor-posisie in as jy ‘n ek-het-jou-mos-gesê-houding aanneem maar aan die ander kant, wat sal mens doen? Hierdie spesifieke ou se Afrikaans is baie beter as myne maar as hy volhard met daardie houding, in ‘n soort van ‘n ontkenning lewe, gaan dit mos nou bydraend wees tot die bevordering van Engels wat dan logieserwys ten koste van Afrikaans moet wees. Hy moet mos nou aangaan met die charade of hoe?

Wat ek met die verduideliking ten opsigte van “proaktief” bedoel het is maar net ‘n punt van orde; die SWOT-analise het jy aanbeveel ter verligting van die penarie waarin Afrikaans sigself bevind, dus ‘n reaktiewe aksie; as daar nie ‘n penarie was nie het jy nie ‘n SWOT-analise aanbeveel nie.

Maar dankie vir daardie SWOT-analise van jou; dit is ‘n poging en nie ‘n klagte nie, ‘n baie goeie begin. Mens moet net pasop vir ‘n sirkelargument. Jy identifiseer byvoorbeeld ‘n gebrekkige tegniese woordeskat en, omdat dit algemeen as ‘n feit aanvaar word, doen ouens hulle skripsies en verhandelinge in Engels wat weer tot gevolg het dat nóg minder Afrikaanse tegniese terme gebruik en/of ontwikkel word.

Afrikaans het al die tegniese terme of kan dit ontwikkel. Net ‘n staaltjie om om my punt duidelik te maak: Ek het destyds vir ‘n firma gewerk wat al sy werk in Afrikaans gedoen het; destyds het hulle seker geglo dat die Transvaalse Padadministrasie pro-Afrikaans was en al ons tekeninge (paaie, brûe ens) vir goedkeuring was in Afrikaans. Daar was twee Engelse ouens in die firma en wanneer hulle met mekaar gepraat het het hulle natuurlik Engels gepraat maar vir al die tegniese terme het hulle die Afrikaanses gebruik! “Kantelbalk” is net so maklik soos “cantilever beam”, dis ‘n kwessie van gewoonte. As jy gewoond is aan “knormoer” is die betekenis net so duidelik soos “starter”, “verdeler” is net so duidelik soos “distributor”, netso met “verkoeler” en “radiator” en so kan ek aangaan.

Ek wil net beklemtoon dat ek nie ‘n puris is nie, ek weet nie of jy dit te kenne wil gee nie maar ek sê maar net. Wat ek wel is, is iemand wat bekommerd is dat, gegewe die houding van die regering en ‘n groot gros mede-Afrikaanssprekendes, die taal verwaarloos word.

Groetnis,

c

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top