Bokomo-brekfisbrief; 26/11/2010: My buurman

  • 0

Noudat FW my in sy dronkenskap beskuldig het dat ek swartes haat, stuur ek toe vir my buurman ’n e-pos en vra hom sy mening. So bel hy my terug en kan nie ophou lag nie.

En dit laat my toe dink dat ek ons huisgesinne se vriendskap kan deel.

Alles het begin net nadat hulle ingetrek het. Soos ’n goeie buurman het ek myself gaan voorstel met twee yskoue biere in die hand, en daai was ’n foutjie want sien, sy vrou was ook dors. Dankie tog daar was darem koue voorraad in my yskas so ek moes vinnig nog een gaan haal en sommer my vrou ook saamvat vir die kennisname.

Buurman moes toe vir ’n maand Durban toe gaan, en daar het die papaja die waaierband getref want hy het nooit die swembad pomp bietjie nagegaan en skoongemaak nie. Hy was skaars weg, toe is Buurvrou by ons om hulp te soek met haar groen swembad. Goeie buurman wat ek is, is ek langsaan toe, en nadat al die nodige “backwash” en “spins” gedoen is kon ons weer chloor ingooi. Ek het ’n yskoue Black Label vir my moeite gekry.

Maar ’n swembad word nie oornag mooi nie en met paar opvolgbesoeke en suurbyvoegings was hulle swembad weer mooi skoon. Ses biere uit Buurman se voorraad later.

So het ons mekaar leer ken en ’n instelling van een keer ’n maand se braai het gevolg. Elkeen bring sy eie vleis, ons maak die slaai en Buurvrou maak die pap en sous, want in haar woorde "julle whities kan nie pap maak nie”. En dis waar. Sy maak haar pap op ’n aparte vuurtjie in ’n swartpot gaar, en begin lank voor ons die braaivleis se vuur aanpak. Dan braai ons en kuier ’n hond uit ’n bos uit.

Ai ek’s bly die vorige eienaars het verkoop aan hierdie twee pragtige mense. Drie kindertjies, maar die kommunikasie is maar moeilik met die kleintjies want hulle verstaan net so effens Engels.

En ja as jy mooi kyk en mooi luister na die aksente dan sien en hoor jy hulle is swart mense.

Hulle is my bure! Hulle is deel van my vrinne!

Ek hoop nie hulle trek ooit nie.

PlaasJaap

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top