Bokomo-brekfisbrief; 26/07/09: My man se vriend, Ahmed Jawoodien

  • 0

 

 

Vergeet maar 'n bietjie van 'n Israeliet sonder bedrog, hier is iemand ánders van wie jy dieselfde kan sê.

Ahmed Jawoodien en my man se paaie het jare gelede gekruis, toe Nick nog aan die bank verbonde was. Van die eerste ontmoeting af het my ou darling van hom gehou. 'n Saggeaarde mens met 'n breë glimlag en 'n vriendelike woordjie vir almal wat hy ontmoet. Dit het ook nie net by vriendelike woordjies gebly nie. Ahmed is 'n man van daad - en soms van oordaad - omdat hy glo dat die seëninge wat hy van sy God gekry het, gedeel moet word. So leef hierdie Moslem ook die eerste twee gebooie van ons Bybel uit.

Op 'n dag kom daar 'n brandarm vrou in nood na Nick se kantoor. Haar man was in Port Elizabeth op soek na werk en is daar in 'n motorongeluk oorlede. Sy het nie geld om die lyk terug in die Kaap te kry nie - hoe nou gemaak? Nick sou by kollegas uitvind of 'n verassing nie dalk die aangewese oplossing sou wees nie. Hy was nog op die foon daarmee besig, toe Ahmed by sy kantoor instap. En Ahmed het sonder enige huiwering die nodige som geld gegee sodat hulle haar man se lyk terug kon vervoer.

Hy besit 'n supermark op die Kaapse Vlakte en - net soos almal van ons - het hy ook maar las van talle bedelaars. Hulle word nooit weggejaag nie, maar gevra om klein werkies te doen en kry dan as betaling kos en ander benodigdhede. So behou hulle 'n bietjie menswaardigheid, glo Ahmed.

Wanneer hy nou nog gereeld by ons kom kuier, word daar nie oor godsdiens geredekawel nie. Ahmed sê daar is maar een God, en al het Hy verskillende name, staan dit elkeen vry om Hom op sy eie manier te dien.

Ahmed, met hierdie brief sê ek vir jou dankie vir alles wat jy vir jou naaste beteken. En vir die lesse wat jy steeds vir my en my ou darling daaruit leer.

Met liefde

Ma Botha

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top