Bokomo-brekfisbrief; 26/05/2010: Soweto se bloed is blou!

  • 0

Alhoewel ek verlede week gekla het oor die tekort aan rugbykaartjies vir die Super 14 semi-finaal by die Orlando-stadion, kon ek na baie moeite daarin slaag om wel vier kaartjies in die hande te kry.

Ek bly sowat twintig minute van die stadion, en ons het geglo dat ons heel veilig sou wees om 14:30 te ry, by Nasrec te parkeer en dan nog genoeg tyd te he om die bus te vang Orlando toe. Ongelukkig het Sanral nie saamgespeel nie, en die sokkerwedstryd by Nasrec het die verkeer so ondraaglik gemaak dat ons eers tydens Pierre Spies se eerste drie by Nasrec parkeer het! Almal het altyd 'n eier te lê oor die Bulls se "agterlikheid" en die "kommin-Pretorianers" wat so "rassisties" en "arrogant" optree. Ek hoop dat diegene wat altyd sulke negatiewe kritiek teen die Noordelike landsburgers lewer notisie geneem het.

Dit is wel waar dat sommige ondersteuners baie bizarre uitrustings besit, en hulle het Saterdag weereens nie teleurgestel nie! Daar was selfs 'n paar cross dressers met blou hare, ou mans met gemsbokhorings en verskeie swart ondersteuners met die mees absurde outfits wat jy net by 'n Blou Bul-game kan kry. Sommige was wel effe geolie van die Klippies en coke, maar oor die algemeen was die groot meerderheid ondersteuners heel sober, vrolik en beleefd (soos by die meeste Bulls games wat ek al bygewoon het).

Dan was daar die bustrip Orlando toe. Al was ons laat en almal moeg en keelvol van die verkeer was die atmosfeer in die bus beslis feestelik! Van ons vriende (trotse "regses" hoor!) het vroeg reeds die oggend sommer self na die stadion gery en sjebiens gaan opsoek. Ons groepie was maar effens huilerig toe hulle ons op die selfoon skakel en die score gee. Tog was daardie ekstra veertig minute op pad na die stadion vir meeste van ons 'n besondere oomblik. Die strate was gepak met kinders wat histeries "Bulle Bulle" geskreeu het. Mense het op hulle huise se dakke gestaan met Blou Bul-plakkate. Oud en jonk op ons bus het die verwelkomingskomitee terug gegroet met die getrompetter van Vuvuzelas en opgewonde cheers. Nie eens die laatkommery en terrible verkeer kon die atmosfeer demp nie.

Gelukkig kon ons met die aanvang van die tweede helfte ons sitplekke inneem. Ek het reg by die pale gesit waar Fourie du Preez sy uitmuntende drie gedruk het. Die stadion is nie heeltemal Loftus nie, maar dit was skoon en alles was baie goed georganiseer. Ek dink toe so by myself. Almal wat na Soweto opgeruk het was daar uit vrye keuse en wou net graag die game geniet. Niemand is gedwing om te integreer nie. Niemand is gyselaar gehou en het verplig gevoel om hand om die blaas met die mense van Soweto te verkeer nie. Dit het bloot natuurlik gebeur, almal was verenig in hulle liefde vir die spel en die skare kon die geleentheid benut om so bietjie 'n ander atmosfeer te beleef as waaraan ons gewoond was. "Regses", "Linkses", swart en wit het uit een asem die bulle ondersteun. Daar was geen insidente nie, net opgewondenheid.

Dit was 'n wonderlike dag vir die Bulle en ek hoop dat ons vir eens van daardie etiket waarvoor die "Bulls Supporters" tog so "berug is" ontslae geraak het.  

Toe die bus so negeuur die aand verby Soccer City ry en ons die pragtige stadion se liggies in die naglig aanskou het almal spontaan begin juig en hande klap. Soos al die koerantbordjies wat die hele Soweto se strate vol geplak was getuig het, kan ek ook sê : "Soweto se bloed is blou". Al is dit nou net vir twee Saterdae in 'n leeftyd!

Ek kan nie wag vir die Stormer-game in Orlando nie! Dit is beslis 'n wonderlike dag vir SA rugby en ek dink dit is 'n eer dat die twee beste spanne in die eindstryd teen mekaar te staan kom.

Groete,

FB  

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top