Bokomo-brekfisbrief; 26/05/09: Goed waarvan toebroodjies nie gemaak is nie

  • 0

 

 

Varkspek se vertelling het my aan ʼn ander toebroodjie-ondervinding laat dink.

By die plek waar ek jare gelede gewerk het, het die personeelkantien altyd vroeg toegemaak wanneer dit die volgende dag vakansie was. Maar hulle het darem gesorg dat almal wat die middag en die aand moes werk, toebroodjies in die voorportaal kry.

Een middag gaan soek ek vir my ʼn toebroodjie. Ek kyk die goed deur daar waar hulle op ʼn paar skinkborde uitgestal is, en sien dat sommige van hulle gemerk is "vleistoebroodjie sonder tamatie" en ander "kaastoebroodjie sonder tamatie."

Geamuseerd vra ek vir die oom agter die foyer-toonbank waarom die goed dan nou só gemerk is, en hy sê dis terwille van mense wat allergies vir tamaties is.

Nou kyk, al noem jy ʼn ding ʼn "toe"-broodjie is hy oop genoeg dat jy kan sien wat daarop is. En ʼn tamatie is nou eenmaal van so ʼn aard dat daar geen manier is dat jy hom kan wegsteek nie. En as jy by ʼn toebroodjie-uitstalling moet spesifiseer wat nié binne-in is nie (volgens die voor- en afkeure van ʼn hele verskeidenheid mense) sal jy telkens ʼn lys moet opstel wat min of meer tot in die oneindigheid strek.

Ek wys toe na die kaastoebroodjies en vra vir die oom of ek ʼn kaastoebroodjie sonder eier kan kry.

Hy raadpleeg die etikette en sê jammer, daar's nie kaastoebroodjies sonder eier nie.

Ek vra toe maar of hy dalk ʼn "plein" kaastoebroodjie het. Ja nee, dié het hy, sê hy, ewe hulpvaardig. Ek koop toe my kaastoebroodjie. Sonder ... wel, sonder enigiets anders wat jy op aarde aan kan dink.

ʼn Paar dae later vra ek die dame wat die baas van die kantien was hoekom hulle die toebroodjies so merk: dit of dat, maar sonder tamatie.

"Daar's mense wat nie van tamatie hou nie; hulle wil graag hê dat jy duidelik moet sê daar's nie tamatie op ʼn toebroodjie nie", verduidelik sy.

"Gaaf", sê ek. Ek beduie in die rigting van die kaastoebroodjies. "Kan ek ʼn kaastoebroodjie sonder kaviaar kry, asseblief?"

"Is jy mal!?" roep sy uit. "Waar dink jy gaan ons sulke duur goed kry!?"

Swys

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top