Bokomo-brekfisbrief; 26/05/08: Aan Francois Williams: Die Kiwi-psige

  • 0

Die effek van inteling op die Kiwi-psige is redelik waarneembaar, so as jy dalk eendag (soos ek) gedwing word om NZ te besoek, kyk maar uit vir die volgende:

Opgesoepte karre met groot uitlaatpype, 'spoilers' en 'whale tails': Die goed word deur besete tieners gery wat in die volksmond as 'boy racers' bekend staan. (Buiten vir Amerikaanse tieners is hulle die laagste vorm van lewe.) Jy sal dink jy is in Pretoria in die vroeë sewentigs – net sonder die kafees met die 'pinballs' op die sypaadjies.

Graffiti: Die einste tieners verf als wat onbewoon lyk en as jy ʼn gebou vandag ontruim, lyk hy môre soos 'n Smartie-boks. Die stadsrade spandeer miljoene om agter dié kokkerotte skoon te maak.

Kindermishandeling: Groot.

Die honderde Australiese fortuinvertellers wat adverteer in vrouetydskrifte met 0800-tipe nommers: Die Ozzies het agtergekom die Kiewiete is bygelowig en melk hulle behoorlik.

Tatoeëring: Die helfte van die bevolking lyk of hulle met 'Archie Comics' afgedroog is ná hulle laaste bad (twee weke terug).

Die mans wat nie al hulle hare afskeer nie, het 'mullets'. I shit you not.

Meth Labs: As jy in 'n huis intrek en skielik begin siek voel, weet jy die Kiewiet wat voor jou daar gebly het, was 'n vervaardiger wat dwelms in sy kombuis opgekook het. (Jy sukkel ook om basiese verkoue-medisyne sonder voorskrif te kry, want die dwelmkokke gebruik dit vir hulle brousels.)

Onder die blanke Kiewiete – 'n algehele gebrek aan 'n unieke identiteit en kultuur. Daar is nie iets soos tradisionele Kiwi-geregte, - humor of –musiek nie.

Vrot tande: Tandartsbesoeke kos $350 plus en selfs die Eerste Minister se mond lyk soos ʼn verwaarloosde begraafplaas uit 'n ou Clint Eastwood-fliek.

Kak dokters (meestal Suid-Afrikaners): Gaan sien een met 'n gewone verkoue en soos klokslag stuur hy jou vir bloedtoetse sonder om ʼn voorskrif te skryf.

So, Francois, Nieu-Seeland herinner sterk aan 'n Suid-Afrikaanse spoorwegwoonbuurt uit die Sewentigs. In die reën. Sonder voltydse bediendes.

Of Afrikaners 'n verskil gaan maak is 'n ope vraag, maar vir elke een van hulle (en die Islanders) is daar nou omtrent tien Sjinese. So ek het nie veel hoop nie.

Oom Daan

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top