Bokomo-brekfisbrief; 26/04/2010: Johannesburg, persoonlik - Oester en FB

  • 0

Oester se brief oor die huidige stand van sake in Johannesburg en FB se antwoord daarop, het my laat dink oor my eie gevoel vir Johannesburg.

Ek woon aan die westelike kant van Johannesburg en vandat ek daar aangeland het was ek nog net doodgelukkig. Nie te ver van die middestad en ook nie te naby nie. Namate ek die grootpaaie en die alternatiewe roetes begin verken het was dit eenvoudig  om gou-gou (meestal) ‘n spesifieke plek te bereik. Al soek jy die mees obskure item in die wêreld, sal dit in Joeys gevind kan word.

So drie weke gelede benodig ek skielik ‘n bietjie mediese hulp maar synde dat ek tans tydelik in ’n oerwoud op ’n eiland hier in Suidoos-Asië woon en werk, was dit nogal ’n probleem. Ek was nie te vinde met ’n chirurgiese ingreep in hierdie land nie, toe reis ek op aanbeveling na Singapoer. Drie vlugte verder, sien ek toe twee spesialiste en ondergaan ’n operasie. Almal vriendelik, glimlagte oral en goeie diens.

Terwyl ek ’n paar dae wag om weer deur die chirurg gesien te word, stap ek toe die hele Singapoer rond. Onwillekeurig het ek dit met Johannesburg vergelyk.

Die strate is skoon, daar is geen smouse op die straathoeke, niemand ‘jaywalk’ of loop teen ‘n verkeerslig oor die pad nie. Die ondergrondse MRT (mass rail transit) sisteem is die beste wat ek nog ooit gesien het. Daar is werklik elke twee minute ‘n volgende trein, die waens en stasies is skoon, niemand rook of eet iets in die waens nie (boetes van S$ 100 – 500), tewens dit is teen die wet om selfs kougom in Singapoer in te bring of om dit op straat ( en veral nie op die MRT nie – groot boete!) te kou! Die huurmotors in die stad is skoon, goedkoop en volop (40 000 van hulle).

Die verkeer in die strate loop glad want die aantal voertuie in die land word deur die regering bepaal deurdat daar net ‘n sekere aantal permitte toegestaan word. Na ‘n aantal jaar verval jou permit en jy kan aansoek doen om verlenging, of die motor verkoop (met permit) aan ‘n ander persoon, of aan die staat teruggee teen ‘n reswaarde. Na jou permit verval (tien jaar dink ek) verbeur jy die motor aan die staat teen geen vergoeding. Dus, geen skedonks op die pad nie! Hoe anders as in Jozi nie …

‘n Skoon, vriendelike ordelike stad dus. Net ’n bietjie duur om ’n bier daar te drink (teen die pyn na die operasie, sien) - enigiets van S$6 tot S$10  (1.3 S$ = US$ 1). Ek besluit toe so oor ’n koue Tiger of twee dat ek maklik daar kan woon.

Ek is nou weer terug hier in die oerwoud op die eiland en dink nou terug na my besoek en waarnemings. My kontrak hier eindig oor ’n paar maande en dan keer ek terug na (die wilde weste van) Johannesburg. Ek stem saam met Oester dat dit plek-plek aan die verval is, maar ek dink ook FB is reg. Johannesburg is ’n plek wat altyd verbaas, altyd iets nuuts wys en altyd die vermoë het om my tuis te laat voel. Singapoer of waar ook al is miskien in baie opsigte vir Johannesburg vêr voor, maar ek wil terug na my eie plek.

Ek kan nie wag nie.

Dok

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top