Bokomo-brekfisbrief; 26/04/09: Nee, skoonma .....

  • 0
 

Ek gaan nie by die huis bly by my kinders nie, ek gaan werk. Ek gaan nie elke oggend vir my man die hek oopmaak in my kamerjas dat hy kan werk toe ry en ek dan heeldag huisskoonmaak en kook en bak, en dan vanaand as hy huistoe kom, hom by die voordeur inwag met ʼn stomende bord gekookte kos nie. Ek gaan ook nie alles vir my kinders doen nie, hulle kan ook self.

Ek gaan nie my hele lewe laat draai om my man, my huis en kinders nie.

Nee, skoonma, ek gaan my kwalifikasie gebruik en my eie geld verdien. Ek gaan die wye wêreld se geleenthede aangryp. Ek gaan iemand anders betaal om my huis skoon te maak sodat ek saam met my kinders modeparade kan hou en modderkoekies kan bak in ons tydjies saam. Ek gaan voor in die ry sit by die Eisteddfod en langs die netbalbaan. Ek gaan smiddae saam met hulle in die biblioteek draal en saam met hulle verwonderd sukkel om te besluit watter boek. Ek gaan nooit sê ek het nie tyd nie, want ek hoef nie te stryk of te kook of vensters te was nie.

Dankie vir die truie wat jy vir jou seun se kinders gebrei het, vir die wonderlike verjaardagkoeke en vir die handdoeke vir Kersfees. Net snaaks dat hulle onthou dat annerouma vir hulle blou kuikentjies gekoop het en die name saam met hulle gekies het. Bubbles, Snap, Crackle en Pop. Dat sy altyd vir hulle ʼn rand gegee het as hulle die hek vir haar oopgemaak het. Dat sy nooit skoongemaak het terwyl hulle nog daar kuier nie. Dat sy saam met hulle gedans het op Carike se liedjies. Dat etenstye gekom het wanneer almal honger was, nie volgens ʼn program nie.

Sê vir skoonpa dankie dat hy vir sy seun gewys het hoe om sy vrou lief te hê en op die hande te dra.

Nee, skoonma, jou seun is nie op pad na die Mighty Men Conference toe nie. Hy is op pad huistoe na sy Mighty Woman toe.

Vega

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top