Bokomo-brekfisbrief; 26/03/09: Die skok van stilte

  • 0

 

 

Sondag was 'n anderste soort van dag. Ek word stil-stil wakker. Dit is al na tien! Nog met slaap in my ore hoor ek vaagweg die computerized stemme van die SIMS® vanaf die studeerkamer.

"Sweety, what you doninnnggg?" roep ek die stemme tot stilte. "Just playing," kom die antwoord. "Okay".

Staan toe maar lui-lui op. Ketel aan. Gaan soek na 'n lekker warm 'hello-mommy-drukkie'. Met pj's en al deur die koffiedrinkery, bruin ek gou 'n paar stukkies vleis en uie vir 'n lekker slow food-ete vir die laatmiddag. Gooi dit in die dikboomoondskottel en druk die oonddeur toe. Skil die groente vir later se byvoeg en plaas dit eenkant. Ek is sommer baie trots op myself omdat die harde werk klaar is.

Ek en kleinman vaar die nuwe boks Bokomo-flakes in, wat sommer ook ons middagete word teen die derde bak elk!

Nou ja, daarna plak ek myself piesang-styl (daai lekker half opgekrulde kom-ons-lees-'n-boek-posisie) op die bank neer. Gryp daai boek wat ek myself belowe het vandag klaar gelees moet word, en begin lees.

Nou en dan word ek vaagweg bewus van die normale buurt-geraas. Die oorkantse buurman met sy grassnyer. Die een agter se leave-blower (kon nog nooit verstaan hoekom hulle nie net 'n besem gebruik nie). Kleinding is in sy eie wêreld van binne en buite die huis om die beurt.

Net voor sesuur (ja, ok, ek het nog heeldag my jamies aan!) word alles so stil, 'n harde stilte daal neer. Dit is nogal ontstellend! Ons huis raas nie! Tot die yskas is stil! Ek kon nie verstaan hoekom dit skielik so ekstra stil is nie. Ek skakel selfs die lig aan om seker te maak dat die krag nie af is nie ... toe kom die skielike besef, die televisie is af! Die hele dag al! Ek voel sommer uitgerus en rustig.

Toe verander alles. Die deur swaai oop, die TV word aangeskakel (op sokker nogal) en al die ligte sommer ook! "What is happening? Who died?"

Ek skil toe myself uit daai piesangskilposisie, staan op, skep aandete op, eet en gaan slaap met my MP3 diep in my siel ingeprop ... net jammer niemand kon nog ooit stilte opgeneem het nie!

Groetnis,

Sue

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top