(Vrydag)
Op die hv Kwartel en Ceres is die oorblyfsels van ‘n wattel. ‘n Dooie grys stomp wat verbrokkel onder die son. Die einste akasia was eens die trapleer tot ‘n droomuitsig in my woonbuurt. In die vêrte meander die bont beplakte kloof nog in die rigting van die stad. My eerste skoolmaat het nader aan die stad langs dieselfde kloof gewoon. Die vriendskap gemessel met krappe, kurpers en likkewane was van korte duur. Cassie se ma het besluit ons voete het te veel gestink na haar sin.
Die laaste twee oop erwe oorkant die wattel was toe nog veld en klipkoppies tot by die draai. Tydens naweke het die koppies gedien as boskroeg vir die inwonende hulp van die omgewing. Die rofste wat dit daar geraak het waarvan ek kan getuig was een Saterdagaand met die klop aan ons voordeur van ‘n man met die letsels van ‘n byl op sy agterkop en regterarm. Pa het die polisie ontbied en vir die man gesê hy moet in die straat gaan wag.
Gedurende die dag was die veldjie ‘n minder gevaarlike plek vir ‘n snotkop avonturier. Ek het teesakkies met my voorletters in rooi koki gemerk en oral rondgestrooi as rigtingaanwysers in die wilde bos basbome. Eendag het ek ongelukkig daar in iemand se stront getrap en lank gesukkel om die ekstra stank tussen my tone uit te kry. Een se paradys is altyd ‘n ander se toilet.
(Saterdag)
Die bier-brigade om die vuur by Boeta en sy kleinste ding se gesamentlike verjaarsdagpartytjie vertel ons van hulle pa’s se vliegduiwe met die klem op die jaarlikse swart sakke vol nek-om laatkommers.
(Sondag)
My pa weet nie of oupa Boesie ook dieselfde soort genetika beoefen het nie want hy het hom toe nog nie geken nie. Ek sal die ou girl moet vra. My geliefde oupa Jan du Toit was Sportman van die jaar in 1967 met sy duiwe. Hoeveel nek-om laatkommertjies verg dit? Ons besin ‘n oomblik oor swaeltjies vlieg vir marathons.
Iemand berig vroeër die week alles is deesdae giggelgroen daarbuite. Wat ‘n pragtige kleur vir camo...
“Getting the finger” is ‘n gepaste titel vir ons kaptein. Sy openingsrede kan lui: “Surely a batsman is the only one on the field with the ball.”
(Maandag)
Vandag padlangs dring Knorkiepie via die paalpriesters in die middelman aan op “decent jobs” en ek wil skree: “First do the job at hand decently!” Sommer define decent while you’re a tit please. En ‘n vliegduif se eienaar wen R1,4 miljoen. Skielik spook die flou vliegduif wat ‘n rukkie gelede by my konsentrasie kaalnek-hoenders opgedaag het om te oornag. Ek hoop hy’t nooit sy baas gekry nie.
Ek berou die opgeblase koggelmander wat sy stert moes prysgee oor ek hom uit ‘n rotsskeur wou woel. Ek smag om nog ‘n stukkie jaarring van daardie wattel te gaan haal voor dit te laat is en my stem helder oranje wegsif soos weerligbosse in die gruis maar besluit een houtjie is genoeg om so nou en dan te vryf.
(Dinsdag)
masjienebestaannieprakseerdiemasjienkonstrueerdiemasjienwerkdiemasjienver
beterdiemasjienkykvirdiemasjienvoeldiemasjienluisternadiemasjienbemindie
masjienglodiemasjienknielvoordiemasjienaanBiddiemasjienverveeldiemasjien
verwytdiemasjienblameerdiemasjienvernietigdiemasjienontkendiemasjien
Adriaan


