Bokomo-brekfisbrief; 26/01/2010: 'n Moerige Vrystaatse boeretante bestorm Ikeys

  • 0

In die1960's was daar een ding wat 'n Vrystater nie maklik sou doen nie ... en dit was om Engels te praat. O ja, ons kon dit lees, skryf en verstaan, maar het viervoet vasgesteek as dit by die praatslag kom. Met hierdie gebrek beland ek toe as tjoepstil eerstejaar op Ikeys. Ek't darem geweet waarvoor BMus en BSc staan, maar sommer met die intrapslag by die dameskoshuis Baxter Hall, was dit moeilik om te verstaan dat die meeste meisies "Arts" kom swot het. Gedog dis seker die grootste konsentrasiepunt van aspirant-kunstenaars in die land. Hoe moes mens dan weet dat die BA-graad so genoem is?

Op Ikeys was daar selfs doerie tyd nie ontgroening soos by die Maties nie. Die eerstejaars of freshettes, soos ons genoem is, moes klein skyfies waarop hulle name en kursusse aan hul klere vasgespeld was, dra. Die wat dit nie gedoen het nie, is beboet. Verder moes ons joolblaaie verkwansel en die vlotte help bou. Dit was al. Joolkomiteelede het ons met die Sax Appeal in motors regoor die Skiereiland na verskeie afsetpunte geneem en later weer kom oplaai.

Hierdie einste joolbladverkopery sorg toe vir een helske drama. Op 'n dag storm nog 'n Vrystater se ma al die pad van hulle plaas, onverwags op die huismoeder se kantoor af. Sy begin haar van 'n kant af slegsê, alles op Afrikaans, waarvan die arme "lady warden" nie een enkele woord verstaan nie. Ek word ingeroep om te kom tolk. Van ver af klink dit al soos oorlogskrete uit die tante se sterk keel. Sy's hewig ontsteld en marsjeer heen en weer met swaaiende arms voor die oorblufte koshuismoeder se stoel verby. Dié was teen hierdie tyd letterlik in trane van pure skok. Sy word daarvan beskuldig dat dit skandalig is om as koshuismoeder so uiters onverantwoordelik op te tree. Hoe kón sy toelaat dat haar dogter met "sex appeal onder die blad" saam met vreemde mans in motors rondry? Haar Annatjie het dit sélf vir hulle geskryf. Mooipraat - en verduidelikings dat Sax Appeal die naam van die joolblad was - het op dowe ore geval. Toe Annatjie van haar laaste lesing terugkeer, was haar koffers reeds in die motor se kattebak en is sy sak en pak saam met haar ma terug Vrystaat toe.

Die lessie wat hieruit geleer is? Selfs 'n Afrikaanstalige eerstejaartjie op 'n Engelse universiteit het nie 'n kat se kans teen 'n boeretannie wie se mind reeds opgemaak is nie!

Ellen Botha

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top