Bokomo-brekfisbrief; 25/11/2010: Ek het hulle omsingel generaal ... (Vervolg op ''Vrouekrygers'')

  • 0

Daar is 'n skietstilstand in my huis. Die bulhonde steek al (huiwerig) hulle plat bekke by die kantoordeur uit, maar ek is meer versigtig. Die geskiedenis het geleer dat skietstilstande dikwels die voorloper is van groter ellende. Ek wag dat die vrede in sy geheel neerdaal.  So skink ek nog 'n dop en lees maar verder aan Hillegas en sy wedervaringe. Dis nou van daardie oorlog. Die ene wat ek dink julle van weet.

Kinders. Kinders en oorlog. Enige ouer beskerm syse kinders. Ek wonder dikwels hoe die pa's en ma's gevoel het as 'n elfjarige kind met 'n mauser wat bykans net so lank as hyself is, na die front vertrek. Die ding is baie moeilik te verstaan van binne die moderne siening van dinge.

Hillegas vertel van so 'n elfjarige mannetjie wat saam met sy pa by die beleg van Ladysmith geveg het. By die gevegte om Sannaspos (De Wet) was twee kinders van veertien en vyftien jaar oud onder die bemanning van die sewe gebuite kanonne. Die veertienjarige Pieter Henning van die Potch kommando is by Scholzs Nek gewond.  Teuns Mulder word twee dae na sy sestiende verjaardag twee keer gewond gedurende die gevegte rondom Ladysmith. Willie Joubert is vyftien. Pieter de Jager vyftien jaar oud en ernstig gewond by Koedoesrand. Saam met Cronje by Paardeberg, veg ongeveer een honderd burgers jonger as sestien jaar oud. Die twee Roux-broertjies was onderskeidelik twaalf en veertien jaar oud.

Die grootliks mitiese "Penkopkommando" was nooit 'n formele eenheid binne die Tweede Vryheidsoorlog Burgermagte nie. Die benaming kom vanuit die slag van Majuba, (Eerste Vryheidsoorlog) toe Sir Evelyn Wood tydens die vredesamesprekings gevra het hy wil graag die "Penkopkommando" sien. Joubert het 'n klomp kinders in 'n ry laat staan en die aan die 'Sir' voorgestel. Wood het gebrom dat hulle eerder terug skool toe moet gaan.

Latere skrywers soos Mikro en ander het die idee van die kinderkryger verromantiseer. Die oorgrote meerderheid van die kinderkrygers het saam met pa's en oupas geveg. Die oorwegende rede was óf dat tuisbly nie 'n opsie was nie, of doodgewoon dat kinders hier om en by vyftien, sestien as grootmens gereken was. Daar was 'n paar wat eenvoudig weggeloop, en by 'n kommando aangesluit het.

By Colenso neem 'n twaalfjarige burger drie Kakie-verkenners gevange. By Magersfontein kruip 'n vyftienjarige snotneus deur 'n ruigte tot naby 'n paar Britse soldate en gil, "hensop!" Hy neem hulle na De la Rey se tent. Die ou generaal wil weet hoe hy hulle gevange geneem het. "Ek het hulle omsingel Generaal ..."

UNICEF  (2002) definieer 'n kinderkryger as enigiemand onder die ouderdom van agtien jaar oud. Voor 2002 was die ouderdomsperk 15 jaar oud. En die beeld van die kinderkryger is nie iets nuut nie. In die Britse vloot van die 1800's was agt en tienjarige "powder monkeys" algemeen. Die Duitse "Hitler Jugend" is welbekend. In Rusland vind ons heelparty kinderkrygers as "helde van die moederland". Lyonya Golikov (Sterf 17 jaar oud.) Marat Nazey. Doodgeskiet. 15 jaar oud.)

"Children were in Russian military units and in guerrilla groups. How did they get there (and what they did) is very difficultly to tell to foreigners. It is necessary to know well English, to listen to stories of eyewitnesses, to live many years in Russia and to understand Russian people. It is necessary to listen to stories of those children personally. To listen and cry about their destiny."  Barishnikov. (2006)

Die Tweede Vryheidsoorlog kinder- (en vroue-)krygers is grootliks vergete. Is ons dalkies skaam vir hulle, of pas die beeld net nie by die moderne Afrikaner-lewens en -wêreldbeskouing nie? As die pôpô die "fan strike" is die vrou se plek regtig in die kombuis? En die kind se plek voor sy rekenaar?

Sit ek maar net en wonder hier by myselwers, in my kantoor, met my dop.

(Bron: HC Hillegas. 1901. With the Boer Forces.)

HJ

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top