Sy het met Blessing op haar rug en 'n tas in elke hand van die bus afgeklim op Park Station. Van Zambië af. In die een tas hulle klere en in die ander 'n industriële naaimasjien. Haar man was reeds ‘n jaar besig om te studeer vir pastoor by die Rosebank Bible College.
Hulle het in 'n klein woonstelletjie in Windsor Park gebly en heel gou het sy begin klere maak op bestelling. In haar naaldwerkkamertjie was prente teen die muur van die pragtigste Afrika uitrustings en sy kon enige een vir jou maak van die prentjie af. Sy het my dogter se troue se overlays vir 'n paar honderd rand met pragtige kralewerk versier.
Na 'n tydjie het hulle al meubels en 'n paar kombuistoebehore gehad, sommige deur donasies verkry ander met haar naaldwerkgeld gekoop. Sy het baie verlang na haar twee tienerkinders in Zambië en gehoop om Kersfees huis toe te gaan vir 'n kuier.
Toe word sy siek. Breinvliesontsteking. Die behandeling wat sy by Helen Joseph Hospitaal gekry het was skokkend. Die verpleegpersoneel behandel haar met minagting, want sy is makwerakwera.
Sy kry medikasie en kom huis toe om te herstel. Haar man probeer hard om te studeer vir sy eindeksamen en sy siek vrou te versorg en almal maak beurte om die driejarige Blessing op te pas.
'n Paar dae nadat sy ontslaan is, sit die man verslae en geskok voor my. Blessing se ma is die vorige aand in haar slaap oorlede. Hy moet haar huis toe vat, met skaars genoeg geld vir een buskaartjie.
Woorde is oorbodig. Ek gee hom 'n koevert en loop terug na my motor. Mag sy seun vir hom 'n Blessing wees.
Estelle Brits


