Bokomo-brekfisbrief; 25/11/08: ʼn Baie goeie gewoonte!

  • 0

 

 

Eddie (wat soms waarhede kwytraak) vertel my hierdie verhaal, wat met hom gebeur het. Eddie het lank met Ansie uitgegaan voordat hy besluit het om die groot vraag te vra. In die goeie ou dae moes jy, nadat die meisie ja gesê het, ook die ouers se toestemming kry voordat jy regtig planne kan beraam om te trou.

Ansie het ʼn woonstel gedeel met haar jonger sussie, Talana, wat net so mooi (indien nie mooier nie) was as sy. Eddie meen daar was min te kies tussen die twee dames. Hy kon ongelukkig nie met altwee trou nie omdat dit teen die wet was, anders het hy dalk. Ewenwel, hy maak toe een Saterdag sy opwagting by die woonstel om vir Ansie op te laai. Talana maak die deur oop met net ʼn handdoek om die lyf en vertel vir hom dat Ansie net gou na ʼn vriendin toe is en eers oor ongeveer ʼn halfuur terug sal wees.

Sy nooi hom baie vriendelik in en vra of hy in die sitkamer wil wag of sommer wil saamkom kamer toe om haar te help aantrek! Sy het nog nooit voorheen laat blyk dat sy so-iets sal doen nie! Eddie was uit die veld geslaan? Dapper probeer hy sy sinne bymekaar hou. Hy bedank haar vir die uitnodiging, maar sal maar eerder in die sitkamer wag. Hy besef ook hy gaan homself later haat oor sy besluit. Sy vra hom toe sommer direk of hy haar dan nie aantreklik vind nie. Hy beaam dat hy van haar hou maar staan mos op troue met haar suster en buitendien is daar ʼn kans dat hulle betrap kan word. Sy gee hom toe ʼn keuse - sy sal kamer toe gaan en as hy haar daarheen volg, "sal hy nie spyt wees nie". Wat ʼn keuse!

Eddie vat pad buitentoe en loop wraggies op die trappies sy "aanstaande" skoonpa raak. Dié gee vir hom ʼn hartlike handdruk terwyl hy gelukgewens word omdat hy die toets (wat die familie vir hom gereël het) geslaag het! Aanstaande skoonma en Ansie is toe wel heeltyd in die woonstel versteek en het alles vanuit die kamer gehoor. Hy is dus geweeg en gewigtig genoeg bevind as trou-materiaal vir Ansie.

Ek was ʼn bietjie verbaas toe Eddie my dié storie vertel, omdat ek hom so goed ken. Later vertel hy egter vir my dat hy op daardie dag by sy skoonfamilie ʼn uiters belangrike les geleer het. - Hou ALTYD jou kondome in die kar se paneelkassie, in plaas van in jou beursie of jou sak"! Dit kan jou dalk net eendag uit ʼn helse groot penarie red!

Groetnis.

Neels (Husky) Visser

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top