Bokomo-brekfisbrief; 25/09/08: Weerlig oor die see

  • 0

 

Na 'n verstommende besige twee weke was eergister ʼn verrassende dag. Onverwags het ek 'n uurtjie vry gehad en myself naby 'n mall bevind. Killing time raak toe 'n ontdekkingstog in Musica. Ongelooflik. Ek het lankal vergeet hoe dit voel om alleen, net vir jou eie plesier, musiek vir jouself te loop en soek.

 

Jou waarlik is daar toe nog 'n kopie van Coenie de Villiers se nuutste CD, Weerlig oor die See. Nou ja, "was ek maar 'n digter dan sou ek kon beskryf" hoe ek oor hierdie CD voel. Ek is uiteraard geen musiekkenner nie, maar mense, hier is Afrikaanse musiek om op trots te wees. Ek is al van die vroeë tagtigs ʼn ‘fan' van Coenie se musiek en het nooit gedink dat hy met iets beters as "Sondag van 'n Kind" (die greatste Afikaanse song ooit) of "Skoppensboer" vorendag sal kan kom nie. Maar hier is nou musiek uit die heel, heel boonste rakke. Die snit "Weerlig oor die See" is met een woord fantasties.

Dis asof hier 'n sanger tot absoluut volle wasdom gekom het, so goed of selfs beter as die beste in die wêreld. So genotvol en ryk soos Paul Simon en Elton John se bestes.

Die verwerkings van "Namakwaland" en "Ek verlang na jou" (met Gloria Bosman & Sonja Herholdt) is werklik nuut en heel anders, so asof Coenie hom totaal uitleef en byvoorbeeld Namakwaland sing soos hy altyd wou, soos hy altyd moes. Die laaste snit "As Hugh like it" betrap mens onkant met 'n lekker verrassing; mens kry so al die gevoel dat die vervaardigers lekker ge‘jam' het met die opname daarvan.

Afgesien van voortreflike lirieke is die musiek uitmuntend. Elke snit spreek tot my en ek identifiseer intens met die lirieke van "Weerlig oor die See" en "Spoetnik", soos ek destyds kon identifiseer met die lirieke van "Sondag van 'n Kind" en "Bossies" (die tweede greatste song in Afrikaans). Tot my diepste spyt kon ek nog nie een van hierdie songs op ʼn CD kry nie en ek sal my eie persoonlike voortande daarvoor gee.

Bliksem, die CD is formidabel - Coenie de Villiers is ons eie Billy Joel. Dalk voel ek so omdat ek ook deel is van Generation Jones?

O ja, ek koop toe ook ou Bob Marley se Legend vir die agtste keer en skryf my naam daarop met 'n dik vet swart merkpen. Dis nou 'n CD wat die vermoë het om voete te kry!

Dannyboy

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top