Om te bedel, sit nie in elke ou se broek nie.
Dis die helfte van die maand en "Februarie" was nog nooit maklik nie. Al is dit die maand van die liefde, is daar rêrig nie baie wat die rondte doen nie ... ek praat van liefde vir jou medemens.
Terwyl die winkels in rooi getooi is en geld maak soos bossies, is daar mense wat wel 'n werk en 'n skuiling teen wind, reën en weer het, maar nie los geld vir brood en petrol nie. Ek bid dat die sweet loop. In die warm Februarie is dit nie moeilik in die hitte wat ons beleef. Met die heel laaste vyf rand op my naam tref 'n gevoel van moedeloosheid hartseer en ook woede my.
Ek het nie vanoggend gaan werk nie. My lyf is oortrek van galbulte. Die angs slaan deur my liggaam en los 'n reuk waarvoor ek gril. Ek dink mens kan dit "leeusweet" noem. Dit is in 'n ligte luim gestel maar is tog die waarheid. Daar is nie geld vir deodorant nie, ook nie seep nie. Die tandepasta is leeg gedruk en nie meer vloeibaar nie. Jy suig aan die bopunt en kry darem die geur van AquaFresh, en om te gorrel met sout het seker nog niemand doodgemaak nie. Hare soos gras, want die skottelgoedseep is nie bedoel vir hare was nie.
My kar wat nie op die pad is nie en ook nie rêrig padwaardig is nie, suig die laaste bietjie petrol uit soos weeskinders lemoene suig; die snot wat in die mond afloop, is 'n bonus want dit help vol maak.
Die Ford start dadelik. Sy is goed vir my, al het ons maande laas bietjie olie ingegooi. Ek persoonlik dink die enjin word gedryf deur engele. Ek hou gereeld asem op as ons oor 'n heuweltjie of stywe opdraande gaan, maar kom veilig by die bestemming aan.
So pak ek die oggend aan, ek en my gestremde dogter ... ek moet. Ek haat dit om my kinders so bloot te stel en sien in haar ogies 'n vernedering wat onbeskryflik is. Die knop in my keel wurg en my lippe is droog, en met 'n geboë liggaam loop ek in die slaghuis in.
Ek val oor my woorde en niks wat ek sê maak vir my sin nie. Daar is 'n paar mense in die ry voor ons en ek is bewus van die reuk van my menswees - uiters bewus. Ek het nie gedink mens kan jouself so ruik nie. Uiteindelik is dit ons beurt. Ek staan voor 'n man wat ek ook kan sien nie altyd 'n maklike lewe gehad het nie. Hy lyk ook maar krom van stres en die grys hare staan welig om sy hoof.
"Meneer," kry ek die woorde uit (my asem voel te vinnig en my hart klop soos 'n mossie wat uit die nes geval het - hopeloos te vinnig), "meneer, ek het 'n werk en 'n kar, 'n huis en krag, maar ek het nie vanaand vir my kinders kos nie ... as u my nie kan help nie, sal ek loop en net iemand anders probeer, want my kinders moet kos hê. Asseblief, Meneer?"
Ek kyk in sy blou oë en voel duiselig.
Hy sit agter die toonbank waar die till is en sy oë ontmoet weer myne. Ek sien hy som my op. In 'n mate, dink ek, is hy iemand wat ander maklik sal help, maar ek kry ook die gevoel dat jy nie vir hierdie vreemde man moet lieg nie ... en met lieg is ek nie goed nie - veral nie as dit oor kos vir my kinders gaan nie. Hy staan op en kom agter die toonbank uit met 'n spoed wat ek nie van so 'n ouerige man verwag nie, gee lang, lenige treë na die yskas, gryp twee pakke vleis, stop dit in 'n sak en knik sy kop ...
Ons loop by die slaghuis uit - ek selfbewus en kop onderstebo. Die trane loop vryelik. My dogter sien dit en byt haar onderlip. Ek sien haar kennetjie bewe. Dit is stukkend in my. Ek wil net daar neerval en huil en skreeu, maar my brein sê vir my hou kop, julle kan vanaand eet. Ons klim in Vlekkie. Haar verfwerk dop af en waar sy eens 'n sexy maroen karretjie was, is sy dof en plek-plek dop die velle soos die son haar bak.
My blonde dogter, met haar blou ogies groot oopgesper, kyk vir my en sê: "Mamma, die Here het die oom se hart oopgemaak. Ons moet bid en dankie sê."
Dit doen ons toe in die hitte van die maroen Fordjie. Die totaal van die vleis is R50.60 ek sal dit die einde van die maand vir die slagter met die blou oë teruggee en weer baie dankie sê. Ons kan dit vir vier aande rek ...
Die vleis is nou daar, maar wat maak mens tog nou daarby? Vol moed en met die wete dat mense harte het, loop ek by die volgende besigheid in. Die vrou wat ons tegemoetkom, se oë is hard, haar lippe styfgetrek en met 'n hooghartige "Kan ek help?" begewe my moed my.
Hierdie vrou het nog nooit nodig gehad om te bedel nie, dink ek. Hoe benader ek haar? Sy het 'n afkeur in haar oë en ek sien wat sy dink: Die ding is seker te sleg om te werk. Dis mos makliker om te bedel - sleg witmense is mos volop.
"Mevrou," begin ek, maar ek kry swaar om die woorde uit te spreek.
My dogter sit haar vingertjie op haar traggie en help my om die woorde uit te kry. "Tannie, my ma het 'n werk. Ons het 'n kar en ook 'n plek om te bly, maar ons het nie kos nie."
Ek skud my kop en sien hierdie vrou is nie die man met die blou oë nie.
In 'n hoogmoedige skel stem bars die woorde oor haar lippe: "Julle wat so bedel is 'n skande vir die blanke volk. Kry julle nie skaam nie? Het julle geen trots nie?"
"Mevrou, vir jou bid ek."
My eer is gekrenk en my mond hang oop van ongeloof ... hoe nou?
My dogter sê: "Mamma, kom ons probeer Fruit and Veg. Ons koop mos daar en miskien kan hulle ons help."
My kop lê laag op my bors en ek dink ek sal nie maklik weer iemand kan vra nie ... maar ry tog na Fruit and Veg in Gesina.
Die sweet tap ons af. Dis vuurwarm in die kar. Skielik tref die koel lug van die winkel ons soos 'n lafenis en ek stap doelgerig in die rigting van die kassiere en vra die Portugese meisie vriendelik om die "manager" te sien. Sy stuur ons agtertoe en my dogter se ogies gaan oor die vrugte en groente en sy is baie lus daarvoor. Die reuk van groente en vrugte speel verleidelik onder ons neuse. 'n Mens se mond water erger as 'n bullterriër by 'n braai wat nie kan wag vir 'n stukkie vleis wat per ongeluk op die grond beland nie.
By die manager aangekom, is sy besig met iemand by wie hulle goedere aankoop. Ek dink, hierdie vrou is besig en nou gaan ek haar pla ...
"Mevrou," begin ek toe in Engels, want ek kan sien hulle is Portugees en ek weet hulle is meer gemaklik in Engels.
"Jy kan Afrikaans praat," sê sy vir my en ek sien hier is 'n "gap". Om te bedel is hel moeilik en in Engels is dit nog erger.
"Mevrou," begin ek weer, "ek het twee kinders wat nie kos het nie." Sy kyk na my dogter en ek sien sy kry 'n jammerte in haar hart. Sy laat my nie eens toe om verder te bedel nie, maar vat 'n trollie en vra, vrugte ook? Ek knik my kop. My oë ontmoet my dogter s'n en ek en sy sê sonder woorde dankie.
Die donasie het 'n bedrag van R60.00 beloop en ek sal dit gaan betaal sodra ek kan.
Dit sit nie in almal se broek om te bedel nie. Op die oomblik gaan dit baie moeilik met ons mense. As ek kon, sou ek almal help.
My kontaknommer is 0769509653.
Minke Robbertze


