
Kameroen is ’n pragtige land en ons het die tydjie in dié land werklik geniet. Ons het van Kribi, vanwaar die laaste e-pos gestuur is, na Limbe naby berg Kameroen gereis. Dit het verskriklik gereën en ons verstaan dat Limbe tot 11 meter reën per jaar kry! Berg Kameroen is die mees aktiewe vulkaan in Afrika en het laas in Mei 2000 uitgebars. In 1999 het die berg ook uitgebars en het die lawa oor die nasionale pad gestroom soos op die foto hieronder gesien kan word.

Na ’n paar dae wat ons langs die pad in die veld gekamp het, het ons tot in Kano in die noorde van Nigerië gevorder. Die rede hoekom ons hier aandoen is dat ons hier visums vir Niger moet kry by die Niger-konsulaat in Kano. Niger het nie diplomatieke verteenwoordiging in Suid-Afrika nie en kon ons dus nie dáár visums kry nie. Ons gaan dus 2 dae hier vertoef en maar die besienswaardighede in die omgewing besigtig terwyl die Niger-amptenare waarskynlik teen Afrika-pas ons visum-aansoeke gaan verwerk. Hier is ’n moskee waar tot 50 000 Moslems op ’n Vrydag vergader vir die middaggebed! Ons gaan tuis in die Tahir Guest Palace. Die kamers is massief groot met losstaande sitkamers. Dit laat my baie laat dink aan Caesars Palace in Las Vegas!
Kano is in die noordelike deel van Nigerië waar Islam die oorheersende godsdiens is. Tot so onlangs as 2009 is honderde christene hier vermoor omdat Sjaria-wette hier toegepas word. Soos ons dit sien word elke doen en late van ieder en elk hier gemonitor vir voldoening aan die Sjaria-wette. Slagspreuke soos Allah is the greatest en Trust in Allah word op borde langs die pad vertoon en die bevolking word letterlik konstant gebreinspoel. By die meer spoggerige vulstasies is klein moskees sodat daar gehoor gegee kan word aan die opdrag om 5 keer ’n dag tot Allah te bid! Op die foto is ’n voorbeeld van so ’n vulstasie.

Politieke en veral militêre beheer oor inwoners het die mag in die hande van die leiers verseker in die lande waardeur ons tot dusvêr gereis het. Die heersers in hierdie noordelike deel van Nigerië het totale en absolute beheer oor die bevolking deurdat hulle via die godsdiens alles beheer. Soos lord Acton gesê het: “Power corrupts and absolute power corrupts absolutely”. Die polisie en veral die verkeerspolisie is absoluut korrup en verwag voortdurend omkoopgeld. Een verkeersman het my glads gedreig dat my voertuig onwettig is omdat dit ’n regterhandstuur het – dis volgens hom teen die wet. Sy baas het egter op die toneel verskyn voordat ek nodig gehad het om hom te betaal!
Drink- en waswater is iets wat ons maar altyd probeer aanvul wanneer ons die geleentheid het. Die meeste van die klein dorpies het nie lopende water by die huise nie maar slegs ’n sentrale put met emmers of somtyds ’n handpomp. Ons maak dikwels van dié bron gebruik en die plaaslike bevolking is baie vriendelik en behulpsaam. Op die foto hieronder is ons juis met een van daardie noodsaaklike takies besig.

Wanneer ons ons visums vir Niger gekry het vertrek ons via Niger na Mali waar ons die beroemde Timboektoe (of Timbouctou) gaan besoek. Ons sien baie uit daarna alhoewel die temperatuur ongenadig hoog is. Ons beleef reeds daagliks temperature van meer as 40 grade Celsius en dit gaan blykbaar nog heelwat warmer word!
Groetnis,
Thomas