Bokomo-brekfisbrief; 25/06/09: Flapdrol en wyn-connoisseurs

  • 0

 

 

As jong mens bevraagteken jy mos gewoonlik die "wysheid" van die ouer geslag.

Toe ek Afrikaan se "flapdrol"-storie lees, het my geheue my teruggevat na wat oorle' ma altyd gesê het. Sy het altyd van iemand wat na haar mening 'n slapgat was, as 'n sopdrol gepraat. Sy het ook ander wyshede wat gewoonlik baie gepas was, gehad.

Een wat ek nooit sal vergeet nie, is "leen jou gat uit en jy skyt deur jou ribbes". Sy het dit gebruik wanneer jy iets uitleen en dit nie teruggekry het nie.

Aan Kees oor die wyn-connoisseurs: Daar is net een ding erger as 'n wyn-connoisseur en dit is twee wyn-connoisseurs. Ek het nie tyd vir die filosofie van wyn of die ander goed soos dassiekak en miersweet wat jy in die wyn proe nie. Solank hy sag op die palet en wulps op die tong is, vat ek hom met genoegdoening. Selfs 'n El Boxo met 'n vars Coke gaan nogal goed af. Die belangrikste vir my is saam met wie jy Bacchus ondersteun. Om alleen te suip, is gevaarlik. Ek doen dit nie. Ek vat maar ietsie as mevrou in die nabyheid is, want ek mag nie sonder toesig iets vat nie en dit moet nog onder huisarres ook geskied. Ek het mos die slegte gewoonte, al het ons hoe geparty, dat ek nie kan gaan slaap as die kombuis nie skoon is nie. Ek is al menige keer verby die kombuis slaapkamer toe gelok nadat ek een aand per ongeluk van die glase te rof gewas het. G'n wonder ons eet as sekere pelle kom kuier uit blikborde en drink uit plastiekkoppies nie. (kommintoets-persentasie 53%)

Reusedwerg

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top