Ek sien die vrou nogal taamlik gereeld hier by ons in die winkelsentrum. Sy lyk “something 40”, altyd prim en proper aangetrek met so ʼn presiese stappie. Die kere wat sy naby was of by die teller gestaan het, sien ek daar is nie ʼn haartjie verkeerd nie. “Dirty thirty at a distance en sexy sixty within a meter.” Die gesiggoeters is dik aangeplak. Die kosse anderdag in die mandjie was soos vir ʼn tinktinkie: 2 wortels, 1 klein murgpampoen, 2 aartappels en koolsnipsels of iets.
Vanoggend is sy weer in Pick n Pay. Kom sy op ʼn kol om die hoek, struikel so, druk met die hand op die trollie en woeps, daar slaat sy neer. Kop teen die koffieblikke en als oor haar. Iemand was gelukkig net neffens die vrou, tel die kop op en vra ʼn baadjie om onder die vrou se kop op te sit. Daar was een of ander dokter in privaatklere, dié ruk die bloes oop en vra dat ek die vrou se voete net vashou, want sy skop haarself stukkend teen die rakke.
Hy sê hy is bang die vrou se hart gaan staan, dit lyk asof die vrou nie asemhaal nie.
Ek wil nie veel oor die res sê nie, behalwe dat wat ek gesien het, verskriklik onaantreklik was. Die vrou is met haar klere aan rêrig baie sexy. Op die vel oor die maag en tieties was snymerke kruis en dwars galore, van tummy tuck, boob jobs en dit lyk vir my plastiektepels ook. Ek kan verkeerd wees, want ek het nog nooit sulke perfekte goed gesien nie ... ek weet nie.
Wat ek wil sê is nee, nee, duisend maal mee. Ek kan nie vir vroue sê wat hulle moet doen of nie aan hulself mag doen nie. Dit is seker goed as hul sekere dinge laat doen wat hulself beter sal laat voel en lyk. Ek is net rêrig van mening dat ek liewers sal verkies om vroue onvoorwaardelik te aanvaar en liewer saam met hul vleeslike issues, wat dit ook al is, te lewe as wat ek sou verwag dat hulle hulself so laat opsny, plak en pleister om vir my of enige ander man aanvaarbaar te wees.
Ek het vir die vrou in die hospitaal gaan kuier; sy is stoksielalleen. Sy het niemand nie, al lyk sy hoe, dit het nog geen man in haar lewe vir haar gebring nie. Sy is nie gelukkig nie, sy is werklik oud. Haar gesnyde lyf is niks aantreklik nie, sy kan weens wat ookal gedoen is, nie eens behoorlik glimlag nie.
Dis duidelik dat sy haar beste geprobeer het om vir iemand aanvaarbaar te wees, aantreklik te wees, vir die wêreld, society, haarself, vir wie ook al die verwoester van haarself se gees en eie aanvaarbaarheid is. Die resultate om so versnipper te lyk is skrikwekkend. Daardie aangenaaide lyne oor haar lyf wat soos ʼn zip lyk is hartseer.
Soos ek sê, ek kan seker nie kommentaar lewer nie, want dit is nie my saak nie. Wat ek wel weet, is dat ydelheid iets is in die samelewing wat aangespreek moet word. Ek sal ook wil hê dat wie ook al hierdie belaglike persepsies skep dat “mans” die tipe van versnyding van vroue verwag, in die openbaar gehang moet word. Dit is stront.
Het ons werklik ʼn moreel volwasse “society”? Verwag mens rêrig dit van vroue? Is dit wat ons van die vroue in die samelewing dink ons verwag van hulle?
Dit moet mos vals wees. Ek dink persoonlik dat daar min mans is wat as man en mens die moeite werd is. Die wat die moeite werd is, sal definitief nie wil hê dat enige vrou haar so ter wille van hom moet versnipper nie. “Many a man, they talk the talk but they cannot walk the walk”.
Ek wil rêrig sê vir die vroue.: dis nie die moeite werd om so ʼn “investering” in mans se ydelheid te maak nie. Rêrig nie?
Pierre van Niekerk


