Wie van julle ken van treinry in ou Suidwesterland? Dis nou in die jare vóór die mensdom vir mekaar kwaad geword het en die goeie GE-diesels geruil is vir Sjinese drek wat meer staan as loop? Die treindienste was mos maar fyn uitgewerk vir effektiwiteit en as jy vroeg saans op 'n trein in Swakopmund klim, dan klim jy vroegoggend in Windhoek af. So ook van die Suide se kant af. Vroegaand by Mariental en vroegoggend in Windhoek. Vir naweek hou, of sportgebeurtenisse was dit natuurlik ideaal want daardie dae kon weinig mense 'n kar bekostig. Só het dié manne van Windhoek dan doer op ou Stofbakkies [Mariental] gaan rugby maak die Saterdag-middag en toe hou hulle partytjie saam met die Marientallers dat die biesies bewe en hol vir die trein om hulle weer terug te vat Windhoek toe. Natuurlik met nog verversings wat saamgaan!
In meeste gevalle was hierdie treine dan gemengde treine gewees ... So 'n goederetrein met so 'n paar passasierswaens bygehaak. Dit was dan ook net duskant skoutyd in Windhoek en op daai goederewaens was diere wat op pad was na die skou, onder andere die een Duitse Suideboer se spoghoenders, in die besonder so 'n groot Indian Game-hoenderhaan. So in die laataand, daar op die trein, gaan dié haan aan die kraai asof die wêreld se dag wil breek. Nou het meeste die manne al gaan lê want hulle was mos al moeggeploeg van die rugby en die gekuier en nou kraai die blerrie hoender en hou hulle wakker. Naderhand kon die een ou dit nie vat nie en hy klim sommer so in die ry by die venster van die trok uit, oor op die goederewa en vind die haan wat so raas en steek sy hand by die hok in en draai die hoender net daar nekom.
Toe had hulle so bietjie rus en vrede tot hulle kaptein [hy was 'n plaasboer] daar by die kompartement inkom en opgewonde vir hulle vertel van die wonderlike mooi diere wat op hierdie trein saam met hulle is en dat dit alles skoudiere is. Die manne skrik groot en besluit hulle sal die droogmaak moet gaan regmaak en toe die trein op Kalkrand se stasie stop, toe laat spaander hulle in die dorp se strate op en af en soek 'n haan en vang toe ook 'n rondloperhaan toe die uit sy slaapplek skrik vir die mense wat so skielik hier rondhol. Die gaan sit hulle toe in die hok op die goederewa en gaan klim tevrede in die bed.
Die een ou vertel vir my hy wonder nou al vir sy lewe lank hoe daai Duitser se gesig moes gelyk het die dag toe hy sy hoenders by die goedereloods gaan afhaal het vir die skou en hy vind toe daai Kalkrandse werfhaan in sy haan se plek?
Namib



Kommentaar
Stofbakkies in Nama is "Tharagaaibes" foneties geskryf.