Bokomo-brekfisbrief; 25/02/2010: Atletiek Op Shannon

  • 0

Met betrekking tot die gekarring oor evolusie en Waar-die-son-nie-skyn-nie. Toe lees ek die ware storietjie opgeteken in my anale ... en besef dat daar wragtig niks nuuts onder die son is nie.

Vanmelewe se "Afrikanerkommingeid" is nou evolusionêr 'ge-cyber' op LitNet.

Oom Barkie Barkhuizen was die groot baanbreker van atletiek in Bloemfontein. Dit was in die dae waar die spykers nie aan jou voete was nie maar op die grondbane van dubbeltjies. En waar enigeen kon deelneem op vrywillige basis. So het oom Barkie die groot atletiek-promosiedag by die Shannon-kleinhoewes aan die spoorwegkant van die dorp gereël om ook sommer verskuilde talente onder die veldskoen- of kaalvoetmanne en kappievrouens te soek.

Hy het glo ‘n taamlike oog gehad vir die talente en dan word die op-die-oog-af-vinnige-manne agter gesit en die opvallende stadige ouens bietjie voorgegee. Almal het dan darem gelyke kans om te wen. Oom Barkie vertel my dat hy nogal dêm goed was met sy skattings, maar dat hy hom eendag absoluut misgis het met Koos.

Dit was so ‘n maer, harerige outjie met ‘n groot vrou en swetterjoel kindjies soos kastrolletjies op mekaar wat die myl kaalvoet op die dubbeltjies wou hardloop. Toe gee hy hom so 100 tree voor.

Van die skoot uit die Wembley-polisierewolwer uit kon hy sien dat hy ‘n groot fout gemaak het want Koos hol dat hy bars. Dit was ‘n té klein baan en elke keer as Koos by sy familietjie verby kom dan skreeu hulle langs die draad - histeries soos ‘n koor uit volle bors:

"HOL PAPPA HOL!!!!!"

Vyf keer kom Koos verby en hol vir die ander skoon weg - en elke keer:

"HOL PAPPA HOL!!!!"

Naderhand begin die ander mense jaloers lag vir die vrou en haar kroos - sodat sy haar vreeslik vererg.

Toe Koos loshande wen snou sy hulle toe:

"Julle moenie vir my so aankyk nie - kom kyk by die huis wat Pappa al met sy HOL gewen het!!!"

Outoppie

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top