Met ons onlangse besoek aan Kaokoland, waaroor ek reeds geskryf het, het ek diep nagedink oor hoe nuuskierige toeriste ander mense se waardigheid kan aantas. Ons het byvoorbeeld besoek gaan aflê by ’n Himba-kraal by Purros, diep in Kaokoland.
Die Himbas is ’n nomadiese volk wat nog steeds leef soos hul voorvaders. Hulle trek gereeld met hul beeste na beter weiding en laat hul ru geboude hutte met ’n klip op die drumpel agter, om te wys dat hulle terugkom.
Die vrouens smeer hulself elke dag met fyngemaalde okerklip, wat met dierevet gemeng is. Hulle loop so te sê nakend, met enkele velle en rieme op strategiese plekke. Aan hul eie hare, word lang gebreide rieme ingevleg en ook met oker gesmeer. Die gevolg is ’n algehele blink, rooi voorkoms. Eenvoudige selfgemaakte armbande en ander versierings rond die prentjie af. Die mans is ook skraps geklee en jong seuns het twee vlegseltjies wat van die middel van die kopvel strek en oor die voorkop hang.
Die kraal waar ons aangedoen het, het my laat dink aan ’n dieretuin-besoek. By die ingang betaal jy dertig Namibiese dollar en dan mag jy foto’s neem van wie en wat jy wil. Ek het vreeslik ongemaklik gevoel, veral toe een baie ou vrou kwaai geprotesteer het, toe die gids haar wou dwing om uit haar skuiling te kom. Hierdie spesifieke groepie Himbas leef uitsluitlik van die geld wat toeriste betaal en moet te alle tye beskikbaar wees vir BESIGTIGING! Dit mag wel leersaam wees vir toeriste, maar waar trek mens die streep dat dit nie in ’n vernederende spektakel ontaard nie?
Ons het fantastiese foto’s van hulle geneem en fotograwe stroom van oraloor om “wenfoto’s” te kry. Dit laat my dink aan die stomme Saartjie Baartman wat uit haar omgewing gepluk is, om in Europa as ’n frats aan nuuskieriges tentoongestel te word, teen betaling aan haar meester!
Ons het ook meegedoen aan die spektakel in die naam van toerisme en ek voel nou nog sleg daaroor. Ek troos my net daaraan dat ek en een baie ou vrou met net drie skewe tandjies, die hele tyd kliphard vir mekaar gelag het. Sy was so vrolik en kon nie haar oë van my afhou nie.
Miskien het ons onbewustelik gekommunikeer dat ons almal maar net mense is, al verskil ons kulture hemelsbreed!
Groetnis
Perdebytjie


