Ek wroeg nog so oor wat ek met die LP's moet maak, maar vandag is D-dag. My boekrakke se inhoud moet met vyf-en-twintig persent verminder. Dilemma. Daar is geen manier dat ek al hierdie boeke saam trek nie, maar ook geen kans dat ek weggooi nie. My grootste dilemma is die ou afrikaanse boeke, want niemand wil dit oorneem nie. Liz, die bibliotekaresse van die biblioteek hier naby neem gewoonlik die boeke, maar toe ek vanoggend bel, lig die assistent wat die foon antwoord, my in: "You ken bring iet, what we don't use we êee, throw away ês waistpepper."
Die Afrikaanse Kinderensiklopedie was die enigste bron wat ons as kinders gebruik het vir take. Veral die Nommer tien se Belangrike Mense en Datums was baie handig. Die Stories van die Hele Wêreld het vir my ure se leesgenot verskaf. Ag, en Die Skatkis!! My eie kinders het dit baie selde gebruik, want ons het Encarta op die rekenaar gehad en later natuurlik die internet. Baie jare lank het ons Webster's gebruik, dit was vinniger as die internet en baie kort en saaklik vir akkurate inligting. Nasionale Handelsdrukkery se rooi stel van vyf Woordeboeke van 1966 het ek ook by my ouers geërf en was absoluut wonderlik, dis nou net baie verouderd (gedruk in 1966). Nee wat, hierdie gaan 'n wroegende storie wees.
Om nie te praat van al die Asterix-boeke, jaarblaaie, National Geographic, De Kat en Insig-tydskrifte wat rakke vol maak nie. Vier-en-twintig Bybels wat nooit meer gebruik word nie, want als is mos deesdae op rekenaar en selfoon. My Wiskunde handboeke van hemel weet hoeveel veranderde sillabusse sal ek ook maar biblioteek toe vat en net die OBE weergawes hou. Het mens regtig soveel Afrikaanse kortverhaalboeke nodig?
Hier voor my staan oor 'n honderd video's met opgeneemde films. Gebruik enigeen nog 'n videomasjien? Waar gooi ek dit weg sodat dit nie die aarde besoedel nie? Eks sal eerder nie noem van my man se rye rekenaarspeletjies wat ook nou verouderd is nie.
Ek het nooit gedink dis so 'n groot werk om na soveel jare te trek nie. Hoe traumaties moet dit nie wees vir ouer mense wat al vyftig jaar in dieselfde huis gebly het nie? Of mense wat emigreer nie?
Ek gaan nou die bokse boeke biblioteek toe neem, dan kan hulle maar die boekemoord pleeg as hulle wil.
Vega
(Boekemoord is net so erg soos boommoord. Sug. Wens ek kon jou verlos van jou pyn! Webvoet)


