Bokomo-brekfisbrief; 24/12/09: Kersfees bring heimwee

  • 0

Wanneer dit nader aan Kersfees kom, hardloop mens se gedagtes soms terug in die verlede. In my geval gaan dit na ‘n dorpie met die naam Williston, in die Karoo waar my ouers destyds gewoon het.

Teen die dorpie is daar ’n groterige klip koppie met die naam Singkop. Die mense van die Sendingkerk het gewoonlik die nag van Oukersaand die kop uitgeklim en dan kers- en gewyde liedere vandaar gesing. ‘n Mens kon dan oor die hele dorp die sang hoor. En Kersdag na die erediens, het die blaasorkes van die Sendingkerk deur die strate geloop en ook liedere gespeel.

Oukersaand is gewoonlik ‘n opvoering van die Christuskind se geboorte gehou. Vroeër jare was dit in die kerk wat ook as skool gedien het en toe later, toe ‘n aparte skool en kerk gebou is, is dit in die kerk opgevoer.

Die sang was vir my mooi en die opvoering was aangrypend, en ook snaaks want alle humoristiese dinge het soms gebeur. Baba’s wat openlik deur die ma’s gevoed word, kinders van so vyf wat aan die slaap raak en van die banke afval, groteriges wat handgemeen raak en dan die groter kêrels wat met ‘n lekker lyf inkom en dan ook sommer wil deel wees van die opvoering. En intussen gaan die opvoering voort met so af en toe ‘n engel wat ‘n klap teen die kop kry omdat hy/sy iets verkeerd doen. Maar deur alles bly die ernstige deel op die voorgrond.

Ek het soms die opvoering bygewoon en ons kinders het dikwels saam met pa gegaan as hy Kersdag die diens by die Sendingkerk moes waarneem. Selfs dan was daar insidente wat moeilik was om nie te lag nie – het darem geglimlag.

Kersdag en Oukersaand was vir die mense ‘n ernstige saak en die naam, Singkop ewe so. Want toe die plaaslike drankwinkel sy naam verander na Singkop Drankwinkel was daar groot ongelukkigheid en protes. Soveel so dat die eienaar verplig was om sy drankwinkel se naam te verander.

Nou wonder ek of die tradisie nog voortgaan. En ek hoor nog in my gedagtes hoe “Betlehem ster” gesing word en hoe dit in die opvoering uitgespreek is. Dalk moet ek sorg dat ek weer rondom Kerstyd daar is om te sien hoe word Kersfees nou gevier.

Mag julle almal mooi herinneringe aan jul jeugjare se Kerstye hê en ook hierdie een besonders maak saam met jul geliefdes.

Jakkie

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top