Bokomo-brekfisbrief; 24/11/08: Die Kaap en dinge in Zimbabwe

  • 0

 

 

Ek het die afgelope week in Kaapstad gewerk. Heerlik gewees. Die mense by die kliënt is vriendelik, praat die oulikste Afrikaans en die weer was eerder vir vakansie as vir werk, behalwe vir die wind wat mens so bietjie rondgewaai het.

Die enigste ding wat vir my woes is in die Kaap is hoe die mense bestuur. Dooie heiden, dis iets verskrikliks. Ek het gelukkig nie ʼn kar gehad nie, want ek dink my bloeddruk sou natuurlik weer geskyrocket het, en my senuwees sou nog verder op gewees het.

Ek ontmoet een van ons kliënte van Zimbabwe in die hotel waar ek bly. Sy is hier vir ʼn raadsvergadering, en ons sit een aand en kuier.

Die belaglikheid van die situasie daar is ongelooflik, maar niks om oor te lag nie. Hulle het probleme om werkers by die werk te kry, want die geldeenheid beteken niks, en behalwe dit is die ouens so gedaan as gevolg van hongerte dat hulle nie eintlik kan werk nie.

Hulle kom toe op met ʼn baie innoverende plan. Hulle het die mense by die werk nodig want hulle het ʼn uitvoerbestelling van 70 000 hemde wat vroeg volgende maand moet klaar.

Die plan werk so: As jy half sewe in die oggend by die werk is, kry jy pap vir ontbyt. As jy voor nege by die werk aankom en werk tot een uur, kry jy middagete. As jy tot half sewe in die aand werk, kry jy ʼn bord kos huis toe. Die plan is nou vir vier dae in werking en bywoning by die werk is 90%.

Sy is ook die voorsitster van die beheerraad van ʼn privaatskool in Bulawayo. Hulle aanvaar nie meer Zim-dollars as skoolgeld nie. Rande of "ander goed" word as betaling aanvaar. Sommige mense bring kos, ander kerkpakke, ander werksklere vir die tuiniers en skoonmakers ensovoorts.

Waaroor ek uiters bly is, is dat hulle houersmaatskappy in Suid-Afrika nie net doodeenvoudig hulle op hulle eie laat aangaan nie, maar ʼn baie groot geldelike inspuiting vir die volgende 12 maande gee, of dan tot dinge begin beter gaan, wat ookal eerste is. Ek gaan nie ʼn wilde kans vat van watter een nie, maar sy was by 'n praatjie waar die ou wat dit aangebied het, baie optimisties is dat die goed volgende Vrydag sal uitgewerk wees. Kom ons hoop.

Ek is bly die ouens van die houersmaatskappy help, want sommige van die firmas daar het doodeenvoudig die mense aan hulle eie genade oorgelaat toe hulle sien hulle kry nie meer geld nie.

Andries Wolmarans

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top