Bokomo-brekfisbrief; 24/10/09: Nelson ("kragwoorde" word gebruik)

  • 0

Nie Die Groot Ene en nog minder die seevoël. Nelson is hoe ons hom maar so met die jare saam gedoop het. Soms glip 'n "Madiba!" in maar dis bloot oor die eerste bynaam.

Standerd ses met die derde slag met lof geslaag. Nie oor hy dom is nie, bloot omdat skool nie vir hom was nie. Hy wou see toe. Grootgeword hier waar die SPCA nou staan. Lank voor die groot pad Kaap se kant toe gebou is. Deesdae waag jy dit net daar as jy of dom of baie dapper is. Die ou huis staan ten minste darem nog, al is dit 'n bouval.

Was altyd 'n haan onder sekere henne, so met sy blonde hare op die skouers en gedurig gekam. Hulle beweer daar's kinders so met die tyd saam gemaak maar daars nie P***taks nie, so niemand weet verseker nie.

Visserman? Die beste! Jou lyn is skaars afgerol of sy eerste Kabeljou is in sy kas. En so gaan dit nagte deur. Snags see toe op Windekind of Nat en bedags oesterbanke toe. Einde van die spring het hy nooit minder as 10K gepay nie. Dit was nou destyds, toe 10K sommer baie geld was. Ek dink die manne in Witsand praat vandag nog van die rekord: Toe Nelson Nat man-alleen volgevang het en die volgende oggend 1 600 oesters uitgehaal het. Maar drank is 'n derduiwel en 'n los vrou sy handlanger.

André Babs sê hoeka dat daar twee dinge is wat 'n ryk man arm kan maak oornag: Drank en p***. Want, seg Andre, als is goed en wel as jy p*** gewoond is, maar as jy hom later agterkom vat daai ding waaroor selfs die honde baklei oor, en jy verloor heeltemal kop. Drank sorg mos maar vir homself, maar 'n los vrou vat oor.

So het Nelson "the mouth" ontmoet. Sy het eers vir "die ander span gespeel" as jy nou verstaan wat ek bedoel, en so tussen vrouens en mans het sy toe tog besluit dat sy maar vir die ou span gaan speel, en hier by Nellie se huis een Saterdagoggend met Nelson getrou. Sommer so langs die rivier met 'n swerwende pastoor as huweliksbevestiger. Hulle heuningmaand is gevier in 'n tent op Nellie se voorstoep. Moet sê die sonsondergange hier langs die ****rivier kan mens dryf na 'n tent toe, maar dan moet jy minstens iets vir die oog langs jou he, maar dis ekke.

Maar die huwelik was Nelson se doodsteek. Want skaars 'n week na die lekker maand beland Nelson in die hospitaal: Been is af. Hy sê hy't gestruikel. Die wat gesien het seg nee: The mouth het hom met 'n yster bygedam. Soveel so dat Nelson nou half mank loop. En all pay.

Maar dis die lelike storie. Die mooi deel is dat Nelson nou bekeerd is. Want vroulief sê so. Saterdag kom hulle witwarm met hul sakkie oesters aan en hulle is haastig: Daar's 'n gospel konsert by Hartenbos en hulle moet loop aantrek vir die okkasie. So met die pay slag beduie sy vir hom dat hy net eers gou kantien toe moet koers kry. Mens kan mos nie op 'n nugter maag Hartenbos toe nie! Nou sê die mense wat daar was dat die twee alte jolig was en lekker gehalleluja het.

Maandagoggend sien ek egter die ambulans hier verby my kom en ek moet loop vra want ons moet mos weet wie seerkry hierso. Nelson het steke nodig, en sommer baie. Hy't weer geval beduie sy. Ander sê sy't hom met 'n gholfstok bygedam. Ek sallie wetie, want Nelson beaam ook hy't gestruikel. Doodnugter. Vir die soveelste keer.

oester

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top