
Naderende nag en stilte bring my siel na waters waar rus is. Ek drink uit die fontein van die dag se gebeure en waar ek hoog in Brandberg uit my skuiling die son se laaste straleveeg oor die aarde gadeslaan, reik my hand onwillekeurig na die Bybel.
Die goed gelese Psalm 23 van Dawid val self oop.
Ek wonder of Dawid die Psalm in nagstilte geskryf het. Het hy na ʼn lang dag se arbeid homself op die groen weivelde van die dag se mooi neergelê vir sy Psalm? Het sy woorde sy siel verkwik soos dit myne? Het hy ook nietig gevoel voor die grootsheid van sy Vader se skepping? Ek wonder ...
Teen een van die skuilingwande het 'n oervadertjie Boesman sy begeerte ook verewig, nes Dawid. Ek het hierdie klimtog van ses ure aangepak met André P Brink se Bidsprinkaan in my rugsak, omdat ek geweet het van hierdie skildery teen die skuilingmuur. En dis daar waar ek die boek wou lees. Daar waar vadertjie Boesman sy eie Bidsprinkaan in menslike vorm met ons deel. Daar waar sy Bidsprinkaan ook nou rus en saam met my oor die vlakte tuur. Ek lees vir hom hardop uit André se boek en 'n laaste straal van die son verlig sy gesig vir 'n oomblik van heiligheid tussen ons. Dan lees ek Psalm 23 hardop vir hom.
'n Psalm van Dawid.
1. Die HERE is my herder; niks sal my ontbreek nie.
2. Hy laat my neerlê in groen weivelde; na waters waar rus is, lei Hy my heen.
3. Hy verkwik my siel; Hy lei my in die spore van geregtigheid, om sy Naam ontwil.
4. Al gaan ek ook in 'n dal van doodskaduwee, ek sal geen onheil vrees nie; want U is met my: u stok en u staf die vertroos my.
5. U berei die tafel voor my aangesig teenoor my teëstanders; U maak my hoof vet met olie; my beker loop oor.
6. Net goedheid en guns sal my volg al die dae van my lewe; en ek sal in die huis van die HERE bly in lengte van dae.
Dankie, Dawid!!!
Dankie, André P Brink!!
Swerwer


