Bokomo-brekfisbrief; 24/06/2010: Oorlog

  • 0

B is 'n groot man. Met spiere op plekke waar anner manne nie eens plekke het nie. Vloek soos 'n matroos en leef ook so rof soos ene. Selfs die boere is versigtig vir hom. Hy en sy bure is altoos aan't spook oor een of ander onsinnigheid. Tot die punt waar die boere daagliks gebel word, en nooit opdaag nie, want B is 'n groot man, sien, en geen konstabel gaan hom alleen kom pak vir huishoudelike rusies nie.

B en nog 'n paar manne het die jagtog vir maande beplan. Iewers in die Karoo sou hulle loop Springbokke en nog wat (want B gaan hom nie laat wysmaak wat of wie hy mag of nie mag skiet nie). B het sy geweer laat versien en weer laat hersien en 'n scope van ver af laat aankom en professioneel laat monteer. En toe 'n spesiale "silencer" laat maak en weer deur die proses gegaan met montering en dergelike.

Baie geld en tyd later sit B toe met sy geweer wat nog net uitgetoets moet word. En jy weet mos hoe is 'n man met 'n nuwe speelding: Jy moet hom dadelik uittoets. Nou, hier agter in die hoek waar B se huis staan staan 'n paar palmbome wat as uitstekende teikens sal dien om die geweer met al sy praksasies uit te toets. So sit B helder oordag en geweer instel en palmbome platskiet. Maar die ongure bure wat die skietery bekyk lees toe die instellery en toetsery heeltemal verkeerd en dis toe net 911 en 10111 en noodnommers soos die airtime opgebel word. Want, so dink hulle so kort na die media se berigte van moorde en goete, dat B nou gatvol vir die struwelinge is en nou op hulle begin losbrand.

Die storie loop dik dat die boere met verskeie bakkies en swaar gewapen opgedaag het en selfs ge-leopard crawl het om vir terroris B uit te haal. Selfs 'n paar skote geskiet het, maar die skote kan nog nie verifieer word nie. Hulle sê dat nege man uiteindelik daarin kon slaag om vir B in die vangwa in te kry met verskeie wat erge kneusplekke opgedoen het in die proses. By die selle het dit op 'n verdere spokery uitgeloop met B wat verseg het om bes te gee, "want ek is mossie 'n krimineel nie". Hulle het hom maar eerder alleen in sy eie sel toegesluit. B het probeer verduidelik dat hy nie in die selle kan slaap nie want die manne sou hom douvoordag oplaai om op hierdie lang beplande jagtog te gaan.

Hulle sê dat selfs die landdros moes deurloop onder B se mond want hulle is besig om in te meng in sy jag en drinktyd en dat die judge hom toe sommer 'n baie stywe borg opgelê het wat toe redelik rondbel nodig gehad het om bymekaar te maak.

Nou sit B met verskeie klagtes teen hom terwyl sy maters alte vrolik aan’t jag is.

Ons sit angstig en wag om te sien wat nou gaan uitdraai, want soos ek vir B ken is hierdie bloot net die veldslag wat verloor is en nog lank nie die oorlog nie. Want soos hy is gaan hy baie hard op iemand neerkom.

oester

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top