Hmm. Die "gekerm van doemprofete" is aan die orde hier op die kreunende tafel van die Sê. En ek het nou nie juis 'n verskriklike probleem met doemprofete nie. Dis miskien goed om so elke nou en dan gewaarsku te word. Teen die bose, dom politici, die Illuminati, marsmanne (en marsmeisies), diewe, rowers, padvarke en padskape, gierige besigheidsmanne (en -vroue), prokureurs, voortrekkers en agterryers, fanatiese religieuses, die gay gevaar, rooi gevaar, geel gevaar, swart gevaar, boere-haat, Engelse-haat, anti-semitisme, poliandriste, poligamiste, kommuniste, sosialiste, liberaliste, wetenskaplikes, doppers, masturbeerders, alurofiele, gatjaponners, ateïste, heidene, swerkaters, KdK en die sulke monsters en plae - om maar net 'n paar te noem.
Dis 'n wrede bose ou wêreld. Ek het besluit om ligweg navorsing te doen oor die gevaarlikheid van bogenoemde - 'n klompie so een vir een te ondersoek en met die vyand in gesprek te tree. Ek hou daarvan om te weet hoekom ek bang moet wees.
In enige projek begin 'n mens by die maklikste. Daar doer onder in my tuin is 'n woonstel met 'n mannetjie in. Sy pa het hom uit die huis gejaag en nou bly hy daar. Huur die plek. Al twee jaar lank. Jonk, slim en so. Rekenmeester.
Dag A.
"Soek jy 'n bier?"
"Dag, oom HJ. Hm ... Ja, dankie."
"Is jy gevaarlik?"
"Hei? Wat bedoel Oom?"
"Net wat ek sê. Is jy gevaarlik? Die gay-geit en so aan."
(Laggend) "Hoe gevaarlik wil Oom hê moet ek wees?"
"Hou jou in. Jy is Engels en gay. Is jy dubbelgevaarlik?"
"Oom HJ, ek is nie net Engels en gay nie, ek is 'n sosialis en 'n agnostikus. En my vriend se naam is Bongani."
"Herre. Ek hou jou dop, nè. Ons braai Saterdag. Dis nou as julle lus is om saam te braai. 'n Stukkie boerewors."
"Hie hie! Nee, dis reg, oom HJ."
"Vir wat lag jy! 'n Ander ding. Hoe het jy so geword?"
"Hoe, oom HJ?"
"Jy weet. Sooo. Is dit aansteeklik? Soos varkgriep. Hoe kry mens dit? Nog 'n bier?"
"Ha-ha. Ja dankie. Is Oom bang oom steek aan?"
"Nee. Te oud daarvoor. Ek is onsteekbaar, bedoelende onaansteekbaar. Ek doen navorsing. Jy doen nie net my boeke nie, jy is gay en behoort te weet."
"Van wat te weet, oom HJ?"
"Hoe die gay-ding werk."
"Dis nie 'n ding nie, oom HJ. Wat gebeur as oom HJ ʼn mooie meisie ontmoet?"
"Mannetjie, drie dinge: een, mooie meisies wil my selde ontmoet; ten tweede, hulle hol weg as hulle my wel ontmoet; en ten derde, my liefie wetter my oor die kop as ek ..."
(Sug.) "Oukei, oom HJ, verkeerde voorbeeld. Toe oom HJ nog jonk en jeugdig was, wat het gebeur?"
"Ek het nie vrae gevra nie. Ingeduik en later berou."
"Ai tog, oom HJ, ek bedoel wat was die gevoel?"
"Jy bedoel daai nersderm-gevoel van ‘hou my vas, hier wil ek in?'"
"Ehm ... nie heeltemaal nie, oom HJ, maar laat dit daar. Ek het dieselfde gevoel as ek 'n man ontmoet van wie ek hou."
"Ek is 'n man! Hou op lag!"
"Met respek, oom HJ." (He-he!) Oom, (he-he!) ek bedoel (ha-ha!) 'n ander (hô-hô!) gay man. Oom is ... oom, ek weet nie wat om te sê nie!"
"As jy ophou lag, kan ek nog 'n vraag vra? As jy 'n man sien, kom daar wilde wellinge van donker drifte by jou op?"
"Nee, oom HJ ... ag fok, oom HJ, ons is maar nes enige ander mens. Goeies en slegtes."
"Het julle planne vir wêreldoorheersing?"
"Herre nee, oom HJ."
"Wou julle die Leviet bykom?"
"Oom HJ?"
"Wie is jou span?"
"Die Bulle, oom HJ. Wat ek wel weet, is dat ons die Bulle wil oorheers, oom HJ."
"Vat nog 'n bier!"
Wees bang, Bulle. Wakker slaap!
HJ


