Bokomo-brekfisbrief; 24/05/09: Oom Daan en Francois Williams se donkergesindheid manifesteer

  • 0

 

 

Geseënd is julle, medegelowiges op SêNet!

As Christen-gelowige wat 'n gereelde bydraer en leser van hierdie werf is, pynig dit my met tye om hierdie beproewings te oorkom. Soos wat ons getroue Christus-kinders daagliks in die weë van Jesus se lig wandel, wend die Satan pogings aan om ons van koers te bring. Ek het 'n ruk gelede besluit om my by die kantlyn te skaar en het van 'n afstand die vurige aanslag van die bose aanskou. Slegs die wapenuitrusting van Christus wat elke Christen-mens behoed en bewaar, kan ons van hierdie aanslae vrywaar.

Dit is met hierdie gemoed wat ek gister my twee Christen-seuns weer terug gebring het na die woord van God. Satan se aanslag op tienerseuns is veral vandag duidelik bekend aan die parate Christen-ouer. Goddelike ingryping is met tye nodig, en ek moes gister onder luide protes hulle lewens skoonmaak van sekulêre gemors en ander sataniese materiaal. Die boeke, tydskrifte en musiek wat deesdae so maklik bekombaar is, is 'n steen des aanstoots, wat daadwerklik deur Christelike bystand en ingryping gestaak moet word. Hierdie euwels lei tot afstootlike wandade wat 'n deur ooplaat vir aartsondes soos masturbasie, homoseksualisme en pedofilie.

Na 'n geslaagde reinigingsproses kon ons egter as Christen-huisgesin besin oor die aanslae van die bose, en kon ons deur middel van ernstige gebed ons huishouding skoonwas van die donkergesinde elemente wat ons lewens probeer oorneem het.

Dit het my net tot die besef laat kom dat die knaende en snyende aanvalle op my medebroers en -susters in Christus, veral op my goeie vriend Kobus de Klerk op hierdie werf, dieselfde mate van donkergesindheid openbaar. Skrywers soos Oom Daan en Francois Williams manifesteer hierdie donkergesindheid en die booshede wat uit hulle briewe straal, toon duidelik 'n liederlike hoë mate van duiwelsbesetenheid.

Tog is ek bekwaam in reiniging en sal graag my rol as Christelike bemiddelaar op die werf wil voortsit. Om die vuur en suspisie wat die Satan onder Christen-kinders hier so lustig gesaai het te blus, is dit noodsaaklik om die manifesteerders te identifiseer en attent te maak op hulle duiwelsbesetting. Alhoewel verskeie deelnemers reeds tekens van donkergesindheid toon, sal ek graag my aandag op Francois Williams en Oom Daan vestig.

Ek wil graag die twee betrokke donkergesindes aanmoedig om rustig te raak en die genade van ons liefdevolle hemelse Vader aan te voel en Sy naam uit te roep. Die betrokke donkergesindes moet dan hulle siele oopstel vir Goddelike leiding en daadwerklik begin om van sekulêre en sataniese invloede ontslae te raak. Ek en my seuns het lysies opgestel van die aardse invloed waar satan in hulle lewens begin manifesteer het. Oor elke item kan gebed en genesing en dan totale onthouding 'n suksesfaktor in Christus raak.

Dit is duidelik dat die seksuele aard van die betrokkenes se dwaling die deur oopgemaak het vir die bose om in te glip. Indien hulle my beproefde Christelike metodes ter harte neem, sal hulle bekeerd raak en die ewige lewe beërwe. Dit is nie my metodes per se nie, maar geïnspireer deur ons Vader.

Mag God hulle seën en red van die ewige duisternis!

Liefde en vrede

Christen-moeder

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top