Bokomo-brekfisbrief; 24/05/08: Meerlust-katembas en eisbein by Diaz Tavern

  • 0

Diaz Tavern. Bestaan die plek so wragtag nog? Party van die ouens het dit die Portugese ambassade gedoop. Jy kon tien jaar terug die allerverskriklikste chillisous daarso in wynbottelformaat vir R20 koop.

Een van my mooiste herinneringe is Vrydae-middae saam met my grootste maat, Jimmy: katembas en eisbein by Diaz Tavern vir lunch en dan kuier-kuier oor die berg om sundownertyd by die Chapmanspeak Hotel Remy Martin saam met Costas te drink of soms anderkant om vir 'n paar vinniges by die Brass Bell voor ons berg-oor vir daquiries en peri-peri prawns tussen die bikers op die stoep by Houtbaaihotel.

Jimmy was 'n man wat niks daarvan gedink het om 'n bottel Meerlust Rubicon se nek te knak vir 'n katemba nie. Of om by die Chapmanspeak, saam met wie se eienaar hy resiesperde besit het, 'n lunch bill te run van oor die R1200 en dan doodluiters op te staan en te loop en die rekening net so vir Costas te los nie. Dié het nooit 'n woord gesê nie en eenvoudig die kumulatiewe lunches die volgende keer wat een van hulle perde gewen het, van Jimmy se share van die winnings afgetrek. Dié was een van daardie beautiful arrangements wat jy net in baie ou vriendskappe kry.

Costas se naam was ook nie regtig Costas nie, Jimmy het hom so genoem omdat hy 'n Griek was. Net soos hy my vir die res van sy lewe Lomo genoem het na ʼn vloekskoot plettervat eendag in beachrugby op St James se strand.

Snaaks hoe party mense 'n manier het om by jou te bly selfs as hulle lankal nie meer daar is nie.

Die Diaz Tavern het regtig die beste eisbein wat ek ooit geëet het gehad, behalwe vir Kucci's Pub in Swakop.

Groete

Krokodil

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top