Tyd se gang het van jou ’n winkelhaak gemaak. Jou agterkleindogter Neleha was net te laat vir jou slaaptydstories. Deur die geslagte heen het ons jou oë verloor. Jou agterkleinseun Armandt se oë kan amper praat as sy wenkbroue die woorde so teen sy voorkop plooi. Maar jou oë Helena het soos ’n Hoëveldstorm die hart se aardskuddende bliksems gegee. Miskien het die oorlog se bomfabrieke ons van meer as jou vlegsels geroof, ons met dieper letsels gelaat as net jou skilferhoof.
Anderdag vertel my pa my van jou kindweesdae op ’n plaas buite Nigel en hoe jy tussen veertien mense om een blikkie Pilchards tevrede was om net jou brood in die tamatiesous te doop. En ek wonder hoeveel moed dit verg om een vir een daardie gesin te begrawe tot net jy staande bly.
Jou en oupa Dave se skip het toe nooit op Zuurbekom gedok nie al was die liefde rooi onder lande en lande tamaties. Die skuur het jy netjies met goiingsakke in vertrekke verdeel. Daardie twee helsims, Dirk en Louw, moes jy soms met ’n nat vadoek intoom. En Annetjie, die dogter van jou strepe met die een verdorwe handjie, sy’t mos jou pa en oupa Dave se eerste en laaste bottel Oude Meester stukkend gegooi.
“Meid!?” het oupa Dave skielik een oggend geroep en langs die bed oor sy skoene inmekaargestort. Twee weke later het klein Louw agter die Holland&Holland ’n boesemvriend armer geword.
Onthou jy nog die dag toe ek geglo het James Earl Jones kondig die einde van die wêreld aan op CNN. My moedelose pa het my langs jou maak sit en jy’t my gekyk en gesê: “Ek gooi my dolos in die daggabos.”
Ek onthou die dag in Huis Herfsblaar toe ek my gewete kom sus het met ’n tweehonderd rand noot. Die geld was oranje en jy was oranje en daardie taal tussen ons was oranje.
Sedertdien is jy helder dog swaarvoet agter jou “bos-mercedes” die ewigheid in en het ek drie dosyn EKTs later ook uiteindelik rigting gekry. Of dalk was dit te danke aan jou Here. Deesdae is my geheue soldeerdraad. Blywend egter is my oliekolonie vir Krismis wat op TV met O Fortuna seelangs kom. Jou krom lyf in ’n stofjas aan die sloof tussen rakke hardeware. Die soetpatats in jou woonstel bo KFC. Maar, bo alles ouma Meidjie, die dialoog in jou oë.
Adriaan


