"640K ought to be enough for anybody." (Bill Gates 1981)
Ter wille van agtergrond: Die maandelikse braaiery op my agterstoep.
"(Hik) Ek (hik) sheg nou vi-jou (hik) hie-komme-deng ... " Vuil Piet se tong sleep ’n brannewynsleep om die spasies van sy sinne. Vuil Piet beskou homselwers as ’n profeet van vele voorspellings. Daar is min gebeure wat hy reken hy nie voorspel het nie.
Om te profeteer is ’n Afrikaanse taalneiging. ’n Nersderm ingesteldheid. ’n Koppige kopgeraas. ’n Dwingende behoefte. Dit maak dat groot manne hulle dik vingers voor ander se neuse swaai. En klein mannetjies astrant raak.
Mekaar aan die arm gryp. ’n Tjop met die kaalhand van die vuur af gryp. Weer beginne rook. Na hulle seuns roep met ’n "Haaansie! Gooi vi-jou Pa daar ’n viervinger doppuuuu ... is Mammie nog orraaaait?!" Praat iemand Afrikaans moet jy weet, sodra hy lekker kuier gaan hy begin profeteer.
Dit, saam met stories en spookstories. Die gereedskap is heel eenvoudig. Brannewyn en vleis en vuur. Dit trek die profesiesneller. Sieners. Dis wat ons is. Meeste wil dat hulle se moedertjies hulle vertelle het dat hulle se krose met ’n helm die lig ingespartel het. Met die vlamme en die brannewyn kyk onse mense die duisternis in. Sien ons die toekoms oopvou. Nie helder nie maar duidelik. As jy verstaan wat ek bedoel. Ons SIEN ’n ding kom.
Myse liefie het gaan staan slaap. Sy reken sy hou haar nie op met poefies nie.
Vuil Piet hou nie op nie.
"Ek-shê-vi-jou-vyf-jaa-va-nou-af-ga-jy-die-ou-land-nie-kennie ... Ek she-vi-jou ... Jirre boys keer my of ek keer myself!" Dit terwyl hy ’n harige boomstomparm oor Vusi se skouer drapeer. Vusi drink nie en dis duidelik dat hy nie weet of hy vanaand gemoer of gevry gaan word nie.
Daar is baie soorte profete. Vuil Piet is ’n doemprofeet. Onder die spul is daar ’n klaagprofeet, geldprofeet en weenprofeet. Almal is brannewynprofete. Selfs die wat wyn en ander dop drink.
So kuier die manne. Die konsensie blyk dat meeste van ons oor twintig jaar ten hemele of ter helle gaan wees.
Ek is alles behalwe profesiegeneigd. Dit moet ’n gene-ding wees. Wat ek nie het nie.
"Julle profeteer so lekker. Hoe lyk dit met ’n toetsie."
"Aggenee HJ druk jou wetenskap in jouse ... wat nou van ’n toets?"
"Hoekom skryf elkeen van julle nie julle profeterasie op ’n stuk papier nie. Dan kyk ons volgende jaar wie was reg. Het iemand iets raak geprofeteer? Net ’n jaar in die toekoms in. Of is julle net gekletter? Ons sit ’n skaap op die ding."
Vir so ’n halwe uur daal daar stilte neer. Almal skryf of ten minste probeer skrywe. Vuil Piet sukkel. Sy seunie Hansie kom sit naderhand hand by.
"HJ moet dit hou. Jy gaan nie kyk nie!"
"Nee, natuurlik nie!" ... lieg ek. "Ek sal dit in my kluis bêre. In ’n koevert."
Hier is ’n paar:
Vuil Piet: "Gmfgh uuuu hhefrt" (Onleesbaar) en so meer ... "
“Oom, my Pa sê ons is in ons moer. En dat my Ma hom nie verstaan nie." (Hansie sy seun.)
Andries: "Die Internet gaan gesensor word. Soos in Sjina. Petrol gaan meer as R20 per liter kos."
Johann: "Die Jozie-tolpaaie se kabels en kameras gaan gesteel word. Hoop ek. HJ se Bulhond-nefie gaan in die huis kak."
Vusi: "Eish! Vuil Piet gaan nie ophou suip nie. Piet gaan nie die skaap wen nie. Ek gaan die skaap wen en julle Boere gaan hom opvreet."
Piet Wortel: "Die Bokke gaan wen. Die Leeus gaan wen. Die Bulle gaan wen. Die Stormers gaan wen. Ek gaan probeer ophou rook maar dit nie regkry nie."
James: "’n Lam gaan R2500 kos. Die NP gaan die verkiesing wen. Volkskas gaan vou. Die mielieprys gaan styg. "
Red ’n nasie.
HJ

