Ek het al dikwels gewonder of daar 'n sindroom bestaan waaraan mense ly wat woorde of name verkeerd sê. My pa (88) is 'n baie slim man en hy het 'n geheue wat my laat simpel voel. Die probleem is, hy spreek name so bietjie verkeerd uit. Kaunda was al die jare Kuanda, Mbeki is nou nog Tambekie en Jwaneng, 'n dorpie in Botswana waar ons as pasgetroudes gebly het, word nog al die jare as Juaweng uitgespreek.
Vir dekades het ek van Vicks-bubblegum gepraat. Ek kon nou die dag my oë nie glo toe ek sien daar staan Wicks op die papiertjie nie. Nou kan ek nie onthou of dit net ek was of het ons almal dit Vicks genoem nie. Ek het tot my skaamte onlangs uitgevind dat 'gaol' wat tronk beteken as 'jail' uitgespreek word. En hoeveel keer het ek al die woord gelees! Dit het my laat dink aan my laerskool leesdae. Daar was twee woorde in my Saartjie-boeke wat ek nie 'n clue gehad het wat dit beteken of hoe om dit uit te spreek nie. Die een was 'chaos' en die ander 'nonchalant'. Die eerste weet ek nou, maar is nog steeds van standerd een af, nie seker oor die uitspraak van die tweede een nie. Ek kan baie meer woorde korrek spel as wat ek dit kan uitspreek.
Ek was verslaaf aan lees, maar liewer vir somme. Seker daarom dat ek nooit 'n woordeboek gebruik het nie. Einde standerd vyf het ek die boekprys vir tale gekry, maar my Engels het skandelik verswak toe ek vanuit Johannesburg na Rustenburg Hoërskool is. Daarna op RAU het dit nog verder verswak. By 'n werksfunksie van my man, kort na ons getroud is, het ek vir my man se baas, nadat hy gevra het waar ek werksaam was, gesê: "I teached, but are not working now."
Terug in Suid Afrika , het ek begin Wiskunde gee by 'n swart skool en alhoewel my Engels met rasse skrede verbeter het, het die wiskunde-terminologie my probleme gegee. Ek het die woorde in my handboeke gevind, maar nie geweet hoe om dit uit te spreek nie. So gebeur dit toe dat ek vir die kinders leer van 'n getal se 'ressieproukel' en van 'pêrreboulas'. Salig onbewus, want die leerders was Tswana en het ook nie van beter geweet nie en ek was die enigste senior wiskunde onnie. Eers toe 'n inspekteur kom inloer en 'n les aanbied het ek besef ek leer die arme bloedjies verkeerd, dis 'resíprikil' (reciprocal) en 'pirébilla' (parabola)!
Miskien het die sindroom 'n naam, dan het ek tog 'n verskoning wanneer ek die flieks se name so verkeerd kry, is dit Crouching Dragon, Hidden Tiger of Hidden Dragon, Crouching Tiger? Dan praat ons nie eers van Spotless Sunshine of An Eternal Mind nie! Is dit net ek wat telkemale X-Men met Men in Black en Star Wars met Star Trek verwar?
Blame die sindroom ... ek het dit by my pa geërf.
Vega


