Ek hou van gewone mense. Want hulle koester nie hulle afwykings nie. Die wêreld is deesdae so vol kunssinniges, diepsinniges en al die variëteite kranksinniges dat 'n doodgewone ordinêre mens skoon 'n rariteit geword het.
Ek mis daai ding van saam met iemand op 'n stoep sit in die skemer en as daar in die oomblik niks op die gedagte kom wat jy wil sê nie, sit jy net en dis oukei.
Dis hoekom ek wil platteland toe.
Hoekom het ons in die stad so 'n kompulsie om elke oomblik te beklater met klank? Miskien is dit om die verkeerslawaai te verdring. Ek wil op 'n plek woon waar daar na nege saans omtrent nie 'n kar meer op straat beweeg nie (behalwe die plaaslike hangkuif met sy Cortina wat na elf van sy girl se plek af in 'n stofstreep huis toe jaag na dié se pa hom verwiller het - hý mag ry daai tyd van die aand in die dorp wat ek soek).
Gewone mense ontleed nie alewig alles nie. Dinge is soos wat hulle is en dit is hoe dit is en dis reg so. Hoekom loop en tob oor dinge wat jy nie kan verander nie? Ons hier dink te veel. Dis ons probleem. Ons loop en kopkarring oor dinge waaraan daar geen salf te smeer is nie. Gewone mense doen nie dit nie. Dis hoekom hulle al hoe skaarser raak. Die kopstomers (erkenning: Breyten Breytenbach) het oorgeneem.
Ek hou my besig op die internet met huise kyk in die diep platteland vanaand. Te Koop. Te Huur. Prins Albert. Loeriesfontein. Sakrivier. Britstown. Matjiesfontein. Leeu-Gamka. Uniondale. Barrydale. De Rust. Ek soek 'n dorp met ooms op stoepe.
Ek kyk plek na plek en as daar bome in die straat is op die kiekie, dan wonder ek of daar 'n hof is waar ek kan loop aankla. Dronk op straat. Diefstal van die buurman se hoender. Saterdagaand se klein verstorings na die rugby, na die sokker. Jy weet? Elke Maandag se vier of vyf dockets van die naweek. Dan en wan 'n grote - net om jou darem op die tone te hou.
Ek brand die bandwydte. Unisa se werkopdragte onder die regterelmboog. Ses driekwartklaar hekke in die werkswinkel. Maar vanaand soek ek 'n plek. 'n Plek waar dit oukei is as jou praat soms op is. Waar jy welkom is sommer net vir die saamwees.
Krokodil


