Jan Rap het mooi begin met sy stukkie oor die erns van Afrikaans, maar toe raak hy platvloers en maak my die donner in. Was dit vir hom nodig om die mooi taal met platvloersheid te besmet?
Is dit nie dalk waar die fout by meeste van ons lê nie. Ek en my vrou het gister in Gordonsbaai se hawetjie by die restourant daar aangedoen. Heerlik rustig na die vakansie gewoel en gesuipte Afrikaanse (Afrikaner) binnelandse vakansiegangers wie se platvloersheid ons kort na Kersfees genoop het om die bestelling te kanselleer en te waai.
Vriende van ons was in November op ’n weeklange vakansievaart aan die ooskus. Wie het hulself uiters sotlik gedra? Ja, hul luide kombuis- (keurige?) Afrikaans moes deurentyd vanuit die kajuite langsaan aangehoor word. Absoluut geen respek vir vrouens en kinders vir wie dit ’n aangename herinnering moes wees nie. Ons was verlede jaar vir ’n paar dae op Mauritius. En raai wat? Watse woorde in Afrikaans ken die strandkelners? Ek gaan jou nie eens sê nie. Die stomme mense besef nie wat hul aangeleerde Afrikaans beteken nie. Dit was ’n absolute verleentheid!
My punt is, daar was in die Gordonsbaai-hawetjie aan die tafels langsaan, voor en regs van ons drie groepe toeriste wat elkeen met mekaar in hul eie taal gekommunikeer het. Jy kon Italiaans, Spaans en ’n Oos-Europese taal onderskei.
Die taal en kommunikasie deur al drie groepe met die wit kelnerinnetjie was beskaafd en in suiwer Britse Engels. Met geen Engelse “slang” of Yank-aksent nie. Daar was nie platvloerse versoeke vir telefoonnommers en afsprake vir ’n "lekker tydjie" nie.
Moet ek my nou met diegene en met ’n taal wat in openbare plekke so vieslik gebesig word, vereenselwig?
Ek steek liewer my Afrikaansheid weg en bestel in Engels. Praat Engels in die openbaar en in groot winkels en besighede. (Ek is al deur Engelssprekendes gekomplimenteer oor my Engelse grammatika.)
Dink ’n bietjie, wanneer laas het jy iemand in ’n openbare plek Engels op ’n vieslike manier hoor besig?
Engelssprekende Suid-Afrikaners verstaan mos Afrikaans baie duidelik en sulke platvloersheid skep ’n persepsie van agterlikheid. Apartheid is nie meer die sondebok nie. Die Afrikaanse Afrikaner is sy eie grootste taal-vyand. En hy is te onnosel om dit te besef.
Groetnis.
Raed-na-Gael


