Bokomo-brekfisbrief; 24/01/09: Die V-8

  • 0

 

 

’n Hele paar jaar gelede het ons gesin ’n kort besoekie gebring aan ’n wildreservaat in die noorde. Ons het ons tentjies opgeslaan in die kampeerterrein net buite die reservaat. So met die intrapslag het ons opgemerk daar is redelik baie "permanente inwoners". Later sou ons uitvind dis kontrakwerkers vir een of ander myn.

Voor die kleedkamers, amper reg in die deur, is ’n lang karavaan staangemaak met sy voordeur en tent so geplaas vir prima uitsig! Gesete in hul seilstoele sit ’n oompie en tannie voltyds besig om almal wat daar ingaan, dop te hou. Ek is seker hulle sou verslag kon doen van elke nommer 1 of 2 wat in daai kleedkamers gepleeg is! Die oom het ’n massiewe verband om sy kop gedrapeer en die deel van sy oog wat uitsteek was potblou en dik geswel. Soos ons vermoed het ... "accident on duty" ... miskien ’n ou kroeggeveggie ook ingegooi!

Naby ons kampplek, merk ons ’n groot doenigheid op. In een van die lieflike bosveldbome, word ’n motorenjin sonder seremonie opgehys! Manne met bultende spiere en ylerige gebitte, werskaf daar vir die vale. ’n Klein brandsiek hondjie wat soos ’n veldmuis lyk, kef sonder ophou en wil my die heeltyd byt. So tussen die gewerskaf deur lig die elmboë ook goed. Die volume raak al hoe harder soos die middag vorder ... daai enjin gee nuwe betekenis aan die woord "overhaul"! Intussen hardloop daar vier kindertjies, met verlede jaar se verkoue oral gepleister, daar rond . Hulle lawaai en spreek in vreemde tale en my voornemens vir ’n middagslapie word net ’n hersenskim! Mensig, ek het ’n hele paar nuwes by die bloedjies opgepik en moes terstond ’n paar keer my jongste se ore toedruk!

Twee groot fris vrouens maak later hul verskyning en toe gaan dinge eers lekker. ’n Mens kon duidelik sien dis tannies van ’n ander kaliber waarmee ’n man nie moet sukkel nie! Altwee is geklee in kort broekies wat hier duskant Jerusalem ophou. Stywe T-hemde hou vir Sannie en Annie in posisie. Ek kon sweer ek sien ’n snor op die een se bolip!

Na baie beduiery en nog voggies wat vloei, word die enjin laat sak in die motor ... ’n Ford Estcourt ... met sulke tuisgeverfde vlamme op die sykante. Nou vir die oomblik van waarheid ... Die vrouens sak soos spelers in ’n skrum agter die Ford in. Met een woeste stoot vat die motortjie met ’n gebrul! Die bestuurder "rev" ’n paar keer en gooi ’n klomp "wheelies" deur die kamp tot almal se ergernis! Die spulletjie lag en praat gelyk ... mens sien net tandvleise ... Die kindertjies jil en spring op en af en Veltie (ons het intussen die veldmuiserige hond so gedoop) kom hap my hakskeen vir ’n "encore"!

Die fris bestuurder klim uit en kondig kliphard aan: "Haai julle, hy klink soos ’n fokken V-8!"

Nodeloos om te sê, dit was ’n kostelike naweek wat ons lank sal onthou!

V-8 groete

Antjie Somers

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top