Bokomo-brekfisbrief; 23/12/2010: Om 'n mens te wees

  • 0

Hier op die lessenaar staan ’n klein moderne keramiekpoppie met groot plat voete. Sy eienaardige gevreetjie fassineer jou, die ogies is kraletjies wat rond beweeg, maar is bo-op die kop geplaas, sodat hulle nét boontoe kan kyk. Saam met die figuurtjie is daar ’n getikte nota:

"Everyone you love should have a star gazer. He will remind you to look up and smile. He will remind you that there is Someone up there who cares. You will never be lonely if you have a star gazer as a friend. Up among the stars, you will find help and strength and tranquility.

He will remind you to keep your feet firmly on the ground - big feet are for better understanding. A star gazer watches over and above you so that no harm shall come your way. Only special people have star gazers in their lives, and star gazers are special people.”

En ek dink by myself dis reg so: wanneer jy deur enorme angs en spanning gaan, emosioneel op ’n laagtepunt is, het jy geen ander opsie as om óp te kyk nie.

Gedagtes dwaal terug na ’n voorgeskrewe Nederlandse boek, die roman Duikelaartje van Van Nes-Uilkens. Dié "duikelaartje" is ’n Hollandse poppie wat van hout gemaak is, maar wat geen voete het nie. Die beeldjie se onderste deel is swaar en gerond. Wanneer daar aan hom gestamp word, beweeg hy gevaarlik heen en weer, totdat die bewegings vanself al minder word en hy uiteindelik weer stil en gebalanseerd bly staan. Vir hom is dit onmoontlik om op óf af te kyk. Die ingekleurde hout-ogies staar slegs voor hom uit.

En ek dink by myself dis reg so: jy kan altyd vorentoe kyk wanneer die lewe jou kwaai begin rondstamp, iewers moet daar weer bedaring kom.

Ná ’n traumatiese ondervinding beland ek in totale emosionele chaos by ’n berader. Tussen die trane deur luister hy en vra vrae. Hy verduidelik presies wat hy met ’n volgende sessie gaan doen. Nee, dis té weird, dink ek, skaars die moeite werd om terug te gaan na hom. Hoe kan dit moontlik wees dat hy my sonder hipnose, sonder enige woorde van beide kante sal kan help? As jy ’n wrak is, en daar is darem nog ’n oorlewingsdrang, sal jy enigiets doen om gehelp te word.

Ons sit teenoor mekaar. Ek moet die nare gebeurtenis van begin tot einde herleef, maar my kop doodstil hou, en net die bewegings met my oë volg terwyl hy ’n gekleurde pen heen en weer beweeg. Eers stadig, dan al vinniger. Alles speel soos ’n video voor my af. Voor die tyd vertel hy dat hy sal weet wanneer om die "pause"-knoppie te druk. Ek beleef elke aaklige oomblik weer, sodat die trane oor my wange stroom. Onmiddellik vra hy dat ek my oë moet toemaak. Met sy rustige stem bring hy my tot bedaring totdat ek heel ontspanne is.

Die proses word herhaal. Snaaks, dit begin werklik soos ’n video voor my afspeel, totdat daar op een of ander wonderbaarlike wyse afstand kom. Die geweldige vrees en angs is nie meer daar nie! Vir die eerste keer in ’n lang tyd is daar ’n gevoel van veiligheid, kan ek die lewe weer in die oë kyk. Daardie ondervinding is nou in die verlede waar dit hoort, want dit kan kognitief hanteer word. Verstand en emosie werk weer saam.

En ek dink by myself dis reg so: soms kan die idee van ’n star gazer of ’n duikelaartje vir jou van groot waarde wees. Maar ander kere is dit ook nodig om nie net óp te kyk of vóór jou uit te staar nie. Jy moet geleer word om te kan sien wat ook rondom - en veral binne in - jou gebeur. Want jy is ’n mens.

Ellen Botha

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top