My Liefste Bruidegom,
So gepraat van IK, koddige outjies met oorbelle en tattoo’s, Afrikaanse Vampier-boeke, goeie gene en talente in ons gesprek gister op pad Nigel toe, sit ek nou en dink.
Die mens in al sy glorie sal nooit die omvang van alles verstaan nie.
Dink maar net byvoorbeeld hieraan: hoe langer ons oor die mens dink, hoe slimmer word hy. Jy hoef nie eens iets besonders te wees om voor die spieël te staan en die Sondagskooltekste uit Ps 139 te onthou nie: “Hoe wonderlik het U my nie gemaak nie.”
Vir jare is ons op skool getoets vir ons IK, en ons intelligensie is verdeel tussen ons verbale en nie-verbale vermoëns. Op grond hiervan is ons beoordeel, in klas A of B geplaas, finis en klaar. Maar nou beskik ons oor soveel verskillende intelligensies dat elkeen êrens ’n claim to fame het. As ons nie buskruit uitgevind het nie, het ons dalk ’n baie groot hart (emosionele intelligensie), want êrens gaan jy slimmer as iemand anders wees.
So terloops, daar is blykbaar meer as 24 soorte intelligensies.
’n Politieke ekonoom, Francis Fukuyama beweer in sy vorige boek, The End of History, dat enige ander ideologie moeilik met die liberale demokrasie sal kan meeding en dat ideologiese stryde soos ons dit geken het, eintlik nou onnodig geraak het. Hoekom? Want daar is te min oor om oor te baklei. Dis nou vir elkeen moontlik om ’n huis te besit, vir ’n salaris te werk, ’n entrepreneur te wees.
Die onderdrukkende magte soos wat ons hulle in verskillende lande gesien het, het gekantel en al die ander stelsels en ideologieë het verkrummel.
Nie net het die liberale demokrasie die stryd gewen nie, maar sy tweelingboetie, globalisering, het daarvoor gesorg dat ons nou al op amper enige plek in die wêreld Coca-Cola kan drink, McDonalds kan eet, met Nikes kan draf en 7de Laan kan kyk. Die wêreld het ’n dome geword waarin almal nou eintlik gelukkig vir altyd sal kan saamleef. Of immers, so dink sommige!
Die kapitalisme is die beloofde land aan die einde van die reënboog. Ons is weer terug in die paradys en Kain en Abel gaan nie baklei nie en Jakob en Esau ook nie. Maar in sy nuwe boek waarsku Fukuyama nou teen ’n slang in die gras, binne-in hierdie paradys. Hy noem die boek Our Posthuman Future en wys eintlik daarop dat ons tegnologiese vermoëns ons as mense verbygesteek het. Ons is nou slimmer as wat goed is vir ons. Ons intellek skep gedurig nuwe, wonderlike dinge.
Wetenskap en tegnologie groei ongebreideld voort, en dis veral die biotegnologie wat blom, maar wat ons ook die paradys gaan kos. En as ek nou hier praat van die paradys, dan praat ek nie Jasmyntaal nie en verwys ook nie na Par(ad)ys waar ek gebore is nie!
Want wat maak ons in daardie laboratoriums? Nuwe mense - wat sonder defek gebore kan word en waarvan die perfekte menslike spesie gekloon kan word. Mense gaan dalk nie meer mens wees nie, maar biotegnologiese wonders. As die mens aan die einde van sy menslike natuur gekom het (soos ons onsself leer ken het) dan moet ons die geskiedenis nuut begin.
Vandaar Fukujama se eintlike argument: Ons is aan die einde van ons geskiedenis.
Ons gaan nou mense maak: Duisende Frankensteintjies, of Cleopatras in hul honderde, en Brad Pitts wat leef in hul gloria!
Maar gaan hulle nou soos ons leef en dink? Of soos ons na die wêreld kyk?
Genetiese manipulering, kloning, of nuwe medisyne kan ons hele aard verander en daarmee saam die menslike ras in iets anders laat ontaard.
Dink bietjie vir jouself, toe God ons gemaak het, was ons ’n bietjie meer as die diere en ’n bietjie minder as die engele. Nou vra ek hoe gaan ons lyk as ons uit die mensfabriek stap? Dis Fukuyama se vrees: ’n Postmenslike toekoms weens ’n biotegnologiese revolusie. Hy (en ek ook) hoop dat daar in ons ’n faktor X kleef wat nie sommer uitgewis kan word nie. En dit lê nie in ons IK opgesluit nie.
Daarvoor is daar ’n ander intelligensie nodig ...
Een wat die waardigheid van die mens respekteer en hom in staat stel om abstrakte reëls te formuleer wat regverdigheid en ’n einde aan ’n oorlog waarborg.
Ons is (dink hy) besig met ’n lewensgevaarlike projek in die paradys wat ons verleidelik uitnooi om soos God te wil wees. En ons moet slim genoeg wees om die satan(g) uit te roei. Hy praat natuurlik nie in dié terme nie. Want die Groot Boek lê nie meer in alle laboratoriumbiblioteke nie, word nie meer geag as die begin van wysheid en kennis nie. So ook die Skeppingsverhaal - toe die mens gemaak is in God se laboratorium met ’n handjie vol stikstof en ’n klompie spore, ’n bietjie spoeg en ’n lewende Gees.
En dis daar waar sy eintlike intelligensie lê: sy Geestelike Kwosiënt. Eet hy alles van die Boom van Kennis op, verloor hy respek vir die misterie van leef, word hy die maat van sy eie rede en doen hy net wat hy wil.
Respek vir die Groter Een, die onmaaklike. Die onskepbare is beslis (dink ek met my beskeie IK'tjie) ’n groot stuk geloof (GK), wat die wêreld kan red ...
XXX
Kaalvoet Jasmyn (in die Jakarandastad)


