Bokomo-brekfisbrief; 23/11/2010: Beide geslagte mag hul name gat maak

  • 0

Enige iemand wat my skrywes lees, sal besef dat ek 'n hele paar broertjies dood het aan politieke korrektheid. Nietemin voel ek myself genoop om as man kapsie te maak teen hierdie opskrif.

Die opskrif van bostaande speel op die woord cougar. Cougar, synde 'n middeljarige vrou wat betrokke is by 'n katelknaap. Cougar se moer, man! Daardie is nog 'n beledigende term: Katelknaap. So al asof 'n ouer vrou en 'n katelknaap, 'n toy-boy, erger is as vir 'n 45-jarige man om by 'n 20-jarige bokkie betrokke te raak, iets wat heel algemeen is.

Waarom is dit sosiaal-aanvaarbaar dat 'n ou man met 'n jong vrou trou of uitgaan, teenoor 'n ouer vrou wat betrokke raak by 'n jonger man, wat nie aanvaarbaar is nie?  Hoe oud was Charles toe hy met Di getrou het? Waarom kon die geriatriese Sean Connery teenoor die lushof van 'n Catherine Zeta-Jones in 'n rolprent speel, en hulle op die silwerdoek romanties betrokke raak in daardie rolprent, sonder dat iemand boe of ba sê? Ek haat dubbele standaarde. Raak slegs ou mans jimpel? Is om jou naam gat te maak op 'n gevorderde ouderdom, om 'n midlife-crisis te beleef, slegs die voorreg van jimpel ou mans? Nee, ek dink nie so nie. Dis al asof die samelewing mans se "sell-by"-datum ignoreer, maar dit teen vrouens hou.

Kyk: Ek dink dis hartseer as "mutton" van my ouderdom soos lammers aantrek, en hulle met hulle stywe tiener-kleertjies in Menlyn paradeer, of as dames van my ouderdom met hul dogters by Presleys gaan uithang. Daar is niks so erg as 'n ma wat saam met haar dogters wil jol en dans nie. Waar's jou waardigheid, mevrou? Dis egter eweneens net so pateties as ou manne, weer eens van my ouderdom, goue kettings dra en met hul boepmagies by die einste Presleys gaan uithang, met die doel om jong bokkies op te tel, of as hierdie einste boepmagies vir hulle Audi TT's koop. Dit is waaroor die Engelse praat wanneer hulle meen dat mens met waardigheid ouer moet word. Dis nie maklik om met grasie ouer te word nie. Jy kan al te maklik jou naam gat maak, deur byvoorbeeld klere te dra wat hopeloos te jonk is vir jou liggaam, of om metgeselle te kies wat nie by jou ouderdom pas nie.

Soos Symbol, The Artist Formerly Known as Prince, sing: "Act your age, not your shoe size."

Anton B

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top