Heita Melt!
Ek het amper die stoepstorie vergeet. Elke verwonde soldaat van saal 2 het begeer om op die stoep te bly. Die stoep was vir ervare siekes wat blougatstatus verwerf het. Die vensters op die stoep had nie tralies nie. Om deur die venster te awol vanuit saal 2 was meer exciting as om Kubane met 'n Star pistool te skiet. Kort na my intrek op die stoep word ek genooi om 'n Woensdagaand saam met 'n boorling uit Daspoort in sy geweste te gaan kuier. Hy was 'n tanktiffy wat deur 'n wiel van 'n Buffel wat voor hul in die konvooi opgeblaas is, oor die kop gemoer is. Die velling het so halfmaan oor sy voorkop gelos, sy skedel was blykbaar ook gekraak.
'n Neef met 'n geel V6 Cortina het ons buite die hospitaal opgelaai. Ek het my sweetpak aangehad en hy was gedress in sy bellbotoms en toutjieshemp. Sy ma het vir ons 'n braai gereël en die hele buurt was daar. Sy ma was 'n stewige tannie en haar naam was Babe, soos Robbie het sy 'n paar voortande gekort. Haar verwelkomingssoen was gul - warm, pap en nat. Die Pa se naam was Soois, sy handdruk was droog, sy tong stil. Die sussie was skaars sestien maar het geweet dat mens nie net uit 'n sekere plek piepie nie. Haar vormdrag was ook tien nommers te klein. Ek was vir haar gematch en ant Babe het gekoer. Oom Soois was 'n roepman en van diens af. Ant Babe het koffie en vetkoeke by die groentemark verkoop en Sus was op soek na 'n man. Die Engel het nou wel my rosie in die linnestoor gepluk maar dit was deel van my behandeling, terapeuties van aard. Sus se lyfskuurdery en gekwyl was amper traumaties. Brandewyn en dam het gevloei, naderhand was die dam klaar. Ant Babe het vir my en Sus 'n kamer reggemaak. Gelukkig het die brandewyn sonder die dam my sentrale senuweestelsel verlam. Ek was Tommy - ‘deaf, dumb en blind'. Hoe ek weer terug in saal 2 gekom het, weet ek nie. Ek was vir dae daarna siek en het gewonder of ek nie net gedroom het nie.
Ant Babe in 'n pienk cat suit, Oom Soois met sy blou safaripak met langkouse en Sus in haar skrapse denimskirt het die Sondag met besoektyd die illusie verbreek. Jou familie is hier, het die Engel my kom inlig. Ek wou nog koes vir ant Babe se soen, die Lieberstein het suur geproe. Oom Soois het droog gegroet en Sus het fokkol gevoel vir infeksieprotokol. Sy het my met my gestreepte flennies beklim. Fok! Ek was haar hero, 'n man van die grens. Gelukkig vir my het 'n KJA-groep Sondae kom sing en die manne beraad. Die godsdiens het my ‘familie' verwar en hulle het onder gebed die saal uitgesluip. Ek is gesond het ek aan Maj Briggs getuig en gepleit om voor die volgende besoektyd ontslaan te word. My pa het 'n ‘fake' aanstellingsbrief gebring en was na drie maande ontslaan uit my basies van die lewe.
papbek spooktrap
bblondie
NS - Meltie, tot vandag toe verkies ek om blad te skud!


