Bokomo-brekfisbrief; 23/10/09: Die "scenic route"

  • 0

My ouma is ‘n paar jaar gelede op die rype ouderdom van 91 oorlede. Met haar saam het sy meer as net haar sterk teenwoordigheid weggeneem. So het ‘n skat van sêgoed ewe skielik stil geraak en verlore gegaan. Ek onthou nog sommige daarvan. Sy kon altyd uiterste verbasing uitspreek met haar "Koning Agrippa!" of "Heiland eind'loos!" of "hygend hert (der jags ontkomen)!" en "Koekemakranka!"

Dan was daar ook een wat ek later uitgepluis het "Heer I maak my!" (Here maak my uwe wegen bekend). As sy verstom was oor iemand se stommiteit was dit gewoonlik, "ag, val op julle knieë neer en bid vir Blom!" (Blom was die bejaarde swart vrou wat in die huis gehelp het en blykbaar maar bitter swaar gehad het onder ouma se skerp tong en perfeksionisme). Later het hierdie uitdrukking in familietong ontaard in sommer net "Bid vir Blom!" As mens bietjie sou oordryf met ‘n vertellinkie (soos ek dikwels geneig is) was dit "Sak Sarel (pa wil ‘n bok skiet)!" En dan die een wat my altyd so half asemloos gelaat het "jou klein moerskont!" Sy sou dan ewe onskuldig beweer dit beteken "moederskind"?? Kom ons laat dit daar.

Hierdie kostelike sêgoed is iets wat uit volksmond verdwyn. Mense gryp deesdae veel makliker na ‘n stopwoordjie van onkreatiewe aard. Dis nou soos die GPS se "Claire" wat jou vra of jy kortpad of "scenic route" wil ry ... ons kies kortpad. Maar ai, daai "scenic route" was darem heerlike Africana.

Karin

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top